Nuus 11:00
BULLETIN 26 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola herbevestig Suid-Afrika se verbintenis tot ‘n oplossing in Palestina
# Meer as 29-duisend geslagsgeweldverdagtes is binne 18 maande in hegtenis geneem
# En rugby: Die Blitsbokke het duidelike doelwitte vir die nuwe seisoen
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het Suid-Afrika se verbintenis tot geregtigheid, vrede en selfregering vir Palestyne bevestig. Hy het deelgeneem aan die Verenigde Nasies se 47ste Internasionale Dag van Solidariteit met die Palestynse mense. Lamola sê ‘n tweestaat-oplossing is die enigste manier waarop Israel in vrede met die Palestyne kan saamleef. Hy sê dit sluit ʼn onafhanklike Palestynse staat met internasionaal-aanvaarde grense in:
# Die polisie se eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings het die afgelope jaar beduidende sukses behaal in die stryd teen die euwel van geslagsgeweld en vrouemoord. Die eenheid is verantwoordelik vir die voorkoming, bekamping en ondersoek van geweld teen vroue en kinders. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê van April verlede jaar tot September vanjaar is 29-duisend-150 oortreders weens dié misdade in hegtenis geneem en 556 lewenslank tronk toe gestuur:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek korrupsie en wanadministrasie by die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, die Gautengse Departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, die eThekwini-metro, en die Ngqushwa-plaaslike munisipaliteit. Die ondersoek sluit in ACSA se ruiltransaksies met rentekoerse wat verbind word met staatskaping en onreëlmatige verkryging van sekerheidsdienste. Volgens die SOE kan die bevindings lei tot strafregtelike verwysings na die Nasionale Vervolgingsgesag asook regstappe om openbare fondse te verhaal.
# Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, lei vanmiddag in Soweto ʼn vergadering met verskillende rolspelers. Hulle sal fokus op die nakoming en toepassing van voedselveiligheidsmaatreëls. Die land bekamp tans ʼn uitbreking van voedseloordraagbare siektes. Meer as 20 kinders is in Gauteng dood nadat hulle vermoedelik giftige kos by spazawinkels gekoop het. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die LUR sal ook inspeksies doen by plaaslike spazawinkels en supermarkte om seker te maak dat hulle regulasies nakom:
# Rugby: Die Blitsbokke het na die Verenigde Arabiese Emirate vertrek waar die nuwe seisoen van die sewes-wêreldreeks die naweek in Dubai begin. Die span het die vorige seisoen op ‘n hoogtepunt geëindig met brons op die Olimpiese Spele in Parys, maar kon slegs sewende eindig op die reeks se punteleer. Mede-kaptein Impi visser sê hulle het duidelike doelwitte vir die seisoen onder nuwe afrigter Philip Snyman, en behalwe om op die veld te wen wil hulle ook goeie mense van die veld af wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-485-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-621-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….