Nuus 11:00
BULLETIN 21 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Valke erken die uittog van personeel beïnvloed sake
# Die regering hersien wetgewing oor onwettige grondbesetting
# En die VSA veto nog ‘n VN-Veiligheidsraadresolusie oor Gaza
# Die Valke se hoof, Godfrey Lebeya, sê sake word geraak deur die uittog van personeel, veral ondersoekers wat in ernstige finansiële misdade opgelei is. Die Valke het sedert die eerste van die maand 33 lede verloor wat elders aangestel of bevorder is. Lebeya sê volgens verwysings van die Spesiale Ondersoekeenheid is daar drie-duisend-139 sake hangende in die hof, en ‘n verdere agt-duisend-220 sake wat steeds aktief ondersoek word:
# Die Departement van Menslike Nedersettings se direkteur-generaal, Alec Moemi, het die bestaande instrumente om onwettige besettings te voorkom as ‘n oorlas en onbuigsaam beskryf. Volgens die departement het die getal plakkerskampe in die land toegeneem van drie-duisend-583 in 2021/’22 tot vierduisend-en-75 in 2024/’25. Moemi sê hulle hersien talle wette, onder meer die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Grondbesetting. Hy sê die hersiening sal die departement in ʼn beter posisie plaas om onwettige besetting te keer voor dit plaasvind.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling het ʼn hofuitspraak verwelkom wat die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling beveel om organisasies sonder winsbejag se befondsingsprobleme op te los. Die Gautengse Sorgkrisiskomitee het die departement hof toe geneem ná ʼn besluit om sommige van hierdie organisasies se befondsing te staak. Die komitee se voorsitter, Bridget Masango, sê dit het veroorsaak dat sommige organisasies hul deure moes sluit tot nadeel van dié wat dit gebruik:
# Amerika het die vierde keer ‘n mosie van die Verenigde Nasies Veiligheidsraad geveto wat ‘n onmiddellike en onvoorwaardelike skietstaking in Gaza eis. Die oorlog het in Oktober verlede jaar uitgebreek na Hamas se gewapende vegters Israel aangeval, sowat een-duisend-200 mense doodgemaak en 253 mense gyselaar geneem het. Israel het uit weerwraak meer as 43-duisend-920 mense in Gaza doodgemaak. Amerika se adjunk-ambassadeur by die VN, Robert Wood, sê hulle kan nie ‘n onvoorwaardelike skietstaking steun sonder die onmiddellike vrylating van gyselaars nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-95-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….