Nuus 11:00
BULLETIN 19 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsprokureur sê Zuma se aansprake oor sy regskoste is ongegrond
# Rusland veto ‘n VN-skietstilstandresolusie vir Soedan
# En rugby: Die Springbok-hulpafrigter sê hulle sal Wallis nie onderskat nie
# Die Staatsprokureur, Isaac Chowe, sê oud-president Jacob Zuma se aanspraak dat sy ontslape advokaat in sy korrupsieverhoor, Kemp J Kemp, aanspreeklik is vir sy regkoste van 28,9-miljoen-rand is ongegrond en word nie deur regsreëls onderskryf nie. Die Appèlhof het in 2021 bevestig Zuma is nie geregtig op voortgesette staatsfondse vir die verdedigingskoste in sy verhoor nie, en die Staatsprokureur opdrag gegee om die geld te herwin. Chowe sê in hofdokumente daar is geen bevel uitgereik dat die regsverteenwoordigers die geld moet terugbetaal wat hulle ontvang het nie.
# Die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, sê die regering gaan optree teen mense wat spazawinkels verhuur aan ongedokumenteerde buitelanders. President Cyril Ramaphosa het opdrag gegee vir die herregistrasie van alle spazawinkels binne 21 dae in ‘n poging om die dodelike uitbreking van voedseloordraagbare siektes te stop. Sedert September is 890 gevalle van siektes wat deur kos oorgedra is landwyd aangemeld, met 23 sterftes. Ndabeni-Abrahams het aan Newzroom Afrika gesê die Wet op Immigrasie is baie duidelik oor die rol van Suid-Afrikaners:
Intussen verwelkom die speaker van Johannesburg se stadsraad, Nobuhle Mthembu, die regering se onlangse ingryping by voedseloordraagbare siektes. Gevalle is in alle provinsies aangemeld, waarvan die meeste in Gauteng en KwaZulu-Natal, en die meeste slagoffers was kinders. Mthembu sê strenger regulasies en toepassing is dringend nodig. Sy sê vir langtermynoplossings moet die kern van die probleem aandag kry. Dit sluit grensbeheer en toepassing van verordeninge in.
# Rusland het ‘n konsepresolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad geveto oor ‘n onmiddellike skietstaking in Soedan. Die land worstel steeds met ‘n dodelike oorlog wat meer as elf-miljoen mense ontheem en ‘n humanitêre krisis ontketen het. Rusland se bondgenoot, China, het die resolusie gesteun, wat opgestel is deur Brittanje en Sierra Leone. Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Lammy, sê Rusland het weer sy ware kleure aan die wêreld gewys:
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê hulle sal Wallis nie Saterdag in Cardiff onderskat in hulle laaste wedstryd van die jaareindtoer nie. Die Walliesers, wat net meer as ‘n jaar gelede die Wêreldbeker-kwarteindronde gehaal het, probeer weer op die wenpad kom na elf agtereenvolgende nederlae, terwyl die Bokke na ʼn derde opeenvolgende sege streef. Davids sê hulle sal alles moet uithaal ten spyte van Wallis se vorige uitslae:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-99 teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-984-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-626-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….