Nuus 11:00
BULLETIN 14 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê die uitlatings deur die hoof van die Weermag weerspieël nie Suid-Afrika se buitelandse beleid nie
# Griekeland veg teen veldbrande te midde van ‘n hittegolf in die suide van Europa
# En krieket: Beserings dwing Australië om sy groep te verander vir die eendagreeks teen Suid-Afrika
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê minister Ronald Lamola sal die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, generaal Rudzani Maphwanya, ontmoet om sy opmerkings in Iran te verduidelik. Maphwanya en die bevelvoerder van die Iranse Weermag, general-majoor Amir Hatami, het tydens ‘n vergadering in Teheran blykbaar hul lande se gemeenskaplike doel goedgepraat om teen wêreldwye verwaandheid en aggressiewe koloniale benaderings te veg. Woordvoerder Chrispin Phiri sê die Presidensie is in beheer van Suid-Afrika se buitelandse beleid:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy het vir meer as tien-ruisend werkers in die farmaseutiese bedryf oor die volgende twee jaar ‘n salarisverhoging bo die inflasiesyfer beklink. Werkers sal in elk van die twee jaar ʼn verhoging van 5,5-persent kry wat tot ses-persent verhoog sal word. Die minimum salaris van 11-duisend-398-rand-80-sent sal ooreenkomstig vir almal aangepas word. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle het tydens die onderhandeling ook ʼn aansienlike verbetering in kraamvoordele beding:
# Die Oos-Kaapse Onderwysdepartement stel ondersoek in na beweerde voedselvergiftiging by die Landbouskool Gobisizwe in Mthatha. Dit volg nadat 131 leerders gister inderhaas hospitaal toe geneem is. Die departement se woordvoerder, Siyanda Manana, sê daar was geen sterftes nie en 128 leerders is intussen ontslaan, terwyl drie nog in die hospitaal is vir waarneming:
Nuus uit die buiteland:
# Brandbestryders veg teen verskeie veldbrande in Griekeland terwyl ‘n verswelgende hittegolf verwoesting saai in die suide van Europa. Die afgelope 36-uur het meer as 152 nuwe brande in Griekeland uitgebreek en duisende mense is ontruim. Ongeveer vier-duisend-850 brandbestryders is betrokke by wydverspreide pogings om die vlamme onder beheer te bring. Temperature het vroeër die week op verskeie plekke 40-grade Celsius oorskry, met rekordtemperature in Frankryk en Slowenië. Wetenskaplikes waarsku aardverwarming veroorsaak dat somers in die Middelandse See-gebied warmer en droër is, wat langer en meer intense brandseisoene veroorsaak.
# Krieket: Die Australiese kolwers Matt Short en Mitch Owen en die veelsydige Lance Morris sal nie in die komende tuisreeks van drie eendagwedstryde teen Suid-Afrika speel nie. Short en Morris is beseer en Owen het vertraagde harsingskuddingsimptome nadat Kagiso Rabada hom Dinsdag in die tweede T20 teen sy kopskerm raakgeboul het. Die drie word vervang deur Matthew Kuhnemann, Aaron Hardie en die veelsydige Cooper Connolly. Die eerste eendagwedstryd word Dinsdag gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-884-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….