Nuus 11:00
BULLETIN 16 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê plaaslike munisipaliteite moet dringend optree teen rot-plae
# Eskom bereik jaar-tot-jaar dieselbesparings van meer as R15-miljard-rand
# En boks, Mike Tyson se terugkeer word deur Jake Paul kortgeknip
# President Cyril Ramaphosa sê plaaslike munisipaliteite sal dringend moet optree teen rot-infestasies deur stede en dorpe skoon te maak en afval te verwyder. Munisipale stortingsterreine sal almal moet voldoen aan die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur. Ramaphosa sê munisipaliteit wat nie die wetlike voorskrifte nakom nie sal swaar gestraf word insluitend voldoeningskennisgewings en strafregtelike vervolging:
# Eskom sê hy verbeter steeds doeltreffendheid danksy die beleggings wat gemaak is in die Opwekkingsherstelplan. Die plan het bygedra tot die land se energiesekerheid en ‘n strukturele verbetering van die steelkoolaangedrewe vloot. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die plan het gelei tot jaar-tot-jaar-dieselbesparings van 15,16-miljard-rand, wat byna 70-persent minder is as die 21,69-miljard-rand in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar:
# Die Stad Kaapstad bevestig veldwagterdienste vir bobbejane is vanaf die eerste van volgende maand dwarsdeur die feestyd beskikbaar. NCC Environmental Services sal bobbejaanbedrywighede monitor en die diere verhinder om bewoonde gebiede binne te gaan. Weens beperkte befondsing sal minder veldwagters aan diens wees en inwoners en ondernemings word versoek om afval verantwoordelik te bestuur en waaksaam te bly. Die stad kyk ook na langtermyn oplossings vir die hantering van stedelike bobbejaanbevolkings.
# New York word binnekort die eerste stad in Amerika met ‘n opeenhopingsheffing. Goewerneur Kathy Hochul het bekendgemaak tariewe sal van 5 Januarie op seker paaie gehef word om strate leёr te maak, besoedeling te verminder en beter openbare vervoer vir miljoene New Yorkers te lewer. Hochul se plan tree in werking voor een van sy belangrikste kritici, Donald Trump, in Januarie as Amerikaanse president ingehuldig word. Plaaslike Republikeine het reeds sy hulp gevra. Hochul het vroeër gesê sy gaan voort met die plan, ongeag wie in die Withuis is.
# En boks: Die swaargewig-legende Mike Tyson se omstrede terugkeer na boks is kortgeknip nadat Jake Paul hom in Texas in ‘n eenparige beslissing met punte verslaan het. Die 58-jarige Tyson kon nie hond haaraf maak teen sy veel jonger teenstander nie en het gesukkel om die teiken te tref. Paul, wat meer as 20 jaar jonger as Tyson is, kon danksy sy spoed en beweeglikheid die middeljarige ikoon behoorlik rondjaag, maar kon egter nie die beloofde uitklophou plant nie. Tyson het na die tyd egter nog genoeg bravade gehad om oor ‘n moontlike terugkeer te skimp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….