Nuus 11:00
BULLETIN 14 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê niemand sal die voortbestaan van die EFF bedreig nie
# Die regering erken nog hervormings is nodig om die Spesiale Ondersoekeenheid te versterk
# En Human Rights Watch beskuldig Israel van oorlogsmisdade oor die gedwonge verskuiwing van mense in Gaza
# Die EFF-leier, Julius Malema sê hy is nie geïntimideer of bang vir die voormalige president en leier van die MK-party, Jacob Zuma, nie en voeg by hy is gereed om te veg. Dit volg na die uittog van vooraanstaande EFF-lede na die MK-party, insluitend die party se gewese adjunk-president, Floyd Shivambu. Malema sê in ‘n party-potgooi daar is geen manier waarop enigiemand die bestaan van die EFF sal bedreig en dan ‘n vriend word nie:
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, erken meer hervorming is nodig om die Spesiale Ondersoekeenheid te versterk. Honderd-en-neëntig van die 297 korrupsiesake van staatsdepartemente en -instellings oor persoonlike beskermingstoerusting tydens Covid-19 is afgehandel en 98 amptenare is skuldig bevind. Agtien amptenare is afgedank, wat twee munisipale bestuurders en drie finansiële hoofde insluit. Morolong sê beraadslaging oor hervorming moet ook die Departement van Justisie en die Nasionale Vervolgingsgesag betrek.
# Die kabinet het vanjaar se veldtog vir 16-dae van aktivisme teen geslagsgeweld goedgekeur. Die veldtog van 25 November tot 10 Desember is daarop gemik om bewustheid te kweek en gemeenskapsbetrokkenheid te verhoog om geweld teen vroue en kinders te voorkom. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshaveni, het aan die media gesê die regering sal saam met die burgerlike samelewing en wetstoepassing werk om slagoffers te ondersteun en beter voorkomingsmaatreëls te tref:
# Human Rights Watch sê Israel het toesig gehou oor die gedwonge massaverplasing van Palestyne in Gaza en hy beskou dit as ‘n doelbewuste en stelselmatige veldtog wat op oorlogsmisdaad en misdaad teen die mensdom neerkom. Sowat 1,9-miljoen mense is die afgelope 13 maande in Gaza verplaas. Die organisasie sê die Israelse regering sê hy hou Palestyne veilig, maar volgens die organisasie word mense op die ontsnaproetes doodgemaak en sogenaamde veilige sones word gebombardeer. Die Israelse Weermag sê egter hy is verbind tot internasionale reg en tree daarvolgens op.
# Gholf: Rory McIlroy sê hy beskou steeds die seisoen as ‘n sukses hoewel hy nie daar in kon slaag om sy dekade-lange droogte van major-toernooie te breek nie. Die viermalige wenner van major-toernooie van Noord-Ierland slaan vandag in Dubai af in die laaste byeenkoms van die DP World-toerseisoen. McIlroy, wat vanjaar drie toernooie gewen het, sê hy het dalk nie al sy doelwitte vir 2024 bereik nie, maar is steeds tevrede met sy spel in die algemeen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-493-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-552-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….