Nuus 11:00
BULLETIN 12 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF kritiseer die regering oor die miljarde wat aan die druk van eksamenvraestelle bestee is
# Shamila Batohi sê die NVG sal nie gedwing word om staatskapingsake te vervolg nie
# En rugby: Die Blitsbok-afrigter is gefokus op spandiepte
# Die EFF het die Departement van Basiese Onderwys se besluit gekritiseer om provinsiale departemente toe te laat om die druk van nasionale seniorsertifikaat-eksamenvraestelle uit te kontrakteer aan privaat maatskappye. Dit het veroorsaak dat die totale koste van die drukwerk opgeskiet het van minder as ‘n miljard-rand tot 3,6-miljard-rand. Die EFF se woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê dit is duidelik dat die besluit die gevolg is van die DA se privatiseringsagenda onder minister Siviwe Gwarube:
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, sê die Nasionale Vervolgingsgesag sal nie swig onder druk om staatskapingsverwante sake te vervolg nie. Een van die grootste staatskapingsake, die korrupsiesaak van 2,2-miljard-rand teen die voormalige Eskom-hoof Matshela Koko en andere, is verlede jaar van die rol geskrap weens onredelike vertragings. Batohi sê hulle het ‘n strategiese voorkeurprojek aanvaar, met staatskapingsake wat net 0,01-persent van die NVG se werk uitmaak.
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gegee vir die ondersoek van bewerings van wanadministrasie wat die verkryging van goedere en dienste by die Gautengse Gesondheidsdepartement betref. Dit hou verband met twee kontrakte: die voorsiening en lewering van ortopediese inplantings en artroskopie-items, en die voorsiening en lewering van plastiekhouers. Die eenheid sê die ondersoek sal diensverskaffers, amptenare of ander derde partye se manipulering van die departement se voorsieningskettingprosesse insluit.
# Nieu-Seeland se eerste minister, Christopher Luxon, het ‘n verskoning aangebied aan duisende slagoffers wat fisiese, seksuele, verbale of sielkundige mishandeling beleef het in staats- en geloofsgebaseerde sorg. Dit volg nadat ʼn verslag bevind het 200-duisend kinders en kwesbare volwassenes is tussen 1950 en 2019 mishandel terwyl hulle in staats- en geloofsgebaseerde sorg was. Dit sluit mense uit die Māori- en Stille Oseaan-gemeenskappe in. Luxon beskryf die mishandeling as afgryslik en hartverskeurend:
# Rugby: Die afrigter van die Springbok Sewes, Philip Snyman, sê hy sien uit na die opbou van groepsdiepte in die aanloop tot die komende Wêreldreeks. Die Blitsbokke sal vir minstens die eerste twee toernooie in Dubai en Kaapstad sonder kaptein Selvyn Davids en Tiaan Pretorius wees, wat beseer is. Rosko Specman is nie meer deel van die sewesprogram nie, terwyl Justin Geduld hom aangesluit het by die Stormers. Snyman sê daar is verskeie sterk en ervare leiers in die groep:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-428-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-607-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….