Nuus 11:00
BULLETIN 9 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAHPRA vermoed ‘n sindikaat sit agter Gauteng se onwettige medisyneverkope
# Minister Majodina is baie ingenome met die groot vordering aan die R20-miljard Laer-uMkhomazi-waterskema
# En, rugby: Die Bokke is tydelik weer boaan die ranglys nadat die All Blacks Ierland klop
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte vermoed ‘n sindikaat sit agter die onwettige verkoop van medisyne in Gauteng. Dit volg na die provinsiale Gesondheidsdepartement gewaarsku het oor winkels wat geskeduleerde medikasies sonder ‘n lisensie verkoop en gewys het op die openbare gesondheidsgevare daarvan. Die woordvoerder van SAHPRA, Mokgadi Fafudi, het aan Newzroom Afrika gesê net gelisensieerde apteke en goedgekeurde gesondheidslui kan wettig medikasie resepteer om gemeenskapsveiligheid te verseker:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, loof die vordering met die grootmaat-watervoorsieningskema van 20-miljard-rand in die Laer-uMkhomazi in KwaZulu-Natal. Die skema sal toegang tot water verleen aan 50-duisend huishoudings in die eThekwini- en Ugu-distrik. Woordvoerder van die ministerie, Cornelius Monama, sê die projek is nou 60-persent voltooi by groot bouplekke en sal na verwagting langtermyn watersekerheid vir meer as vyf-miljoen inwoners verseker, werk skep vir 380 mense en meer as 100 klein ondernemings bevoordeel:
# Die Menseregtekantoor van die Verenigde Nasies sê byna 70-persent van die dodetal in die Gaza-oorlog wat hy kon bevestig is vroue en kinders. Hy veroordeel wat hy beskryf as ‘n sistematiese verbreking van die grondliggende beginsels van internasionale humanitêre gereg. Die VN se telling sedert die oorlog uitgebreek het, waarin Israel se weermag veg teen Hamas-militante, sluit net sterftegevalle in wat hy uit drie bronne kon verifieer, en die tellery duur voort.
# Rugby: Nieu-Seeland het Ierland gisteraand uitgeskop uit die eerste posisie op Wêreldrugby se ranglys na hulle oortuigende 23-13-oorwinning op die Aviva-stadion in Dublin. Dit beteken Suid-Afrika is vir nou terug boaan die lys, met die All Blacks tweede en Ierland derde. Wêreldrugby se ranglys word amptelik eers Maandag op datum gebring, maar soos dinge nou staan is Suid-Afrika eerste met 91,77-punte, Nieu-Seeland tweede met 91,21, en Ierland derde met 90,58. Die ranglys kan egter weer verander sou die Bokke môre teen Skotland op Murrayfield verloor.
En, Suid-Afrikaners wat môre die toets in Edinburgh bywoon, sal dink hulle is by die huis wanneer hulle begroet word met die geur van boerewors wat gebraai word. Die Suid-Afrikaanse slagter Markus Homola leef sy droom uit in die Skotse hoofstad in sy winkel, John Brash Family Butcher, net om die draai van Murrayfield. Homola het in 2009 na Brittanje immigreer en die winkel in 2019 by Brash gekoop. Hy sê hy bly erg verbind aan die land wat hy so mis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….