Nuus 11:00
BULLETIN 8 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema beweer Mpofu wou die EFF ontbind en agter Zuma verenig
# Save SA doen ‘n beroep op Ramaphosa om ‘n noodtoestand oor misdaad af te kondig
# En rugby: ‘n Naweek vol toetsaksie wag op ondersteuners
# Die EFF-leier, Julius Malema, beweer terwyl oudpresident Jacob Zuma oorweeg het om ‘n politieke party te stig, het Dali Mpofu voorgestel die EFF ontbind en verenig agter Zuma. Mpofu het gister die jongste senior EFF-lid geword wat by Zuma se MK-party aansluit. Mpofu, wat die EFF se nasionale voorsitter was, het bevestig dat hy ʼn jaar gelede gehelp het om MK te stig. Malema het in ʼn potgooi gesê Mpofu het die voorstel ʼn jaar gelede tydens ʼn vergadering gemaak:
# Die burgerlike organisasie Save South Africa doen ʼn beroep op president Cyril Ramaphosa om ʼn noodtoestand af te kondig weens kommer oor toenemende misdaad, insluitend moord en afpersing. Die organisasie se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, vra ook dringende optrede oor beweerde voedselvergiftiging van leerders. Hy vra strenger regulasies vir spaza-winkels en stel voedselinspeksies voor om openbare veiligheid te beskerm, veral vir kinders:
# Die Stad Johannesburg veroordeel Eskom se voorneme om sy kragtoevoer te onderbreek en beskryf die stap as onregverdig en teenproduktief. Die kragnutsmaatskappy dreig om kragvoorsiening aan die metro en City Power te onderbreek weens sy skuld van 4,9-miljard-rand. Dit sluit die lopende rekening van ‘n verdere 1,4-miljard-rand uit wat teen die einde van dié maand betaalbaar is. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê Eskom se benadering van “betaal eers en los geskille later op” is nie aanvaarbaar nie:
# Die Israelse Weermag het ‘n beroep gedoen vir die ontruiming van verskeie gebiede in die noorde van Gaza en weereens gewaarsku Palestynse militante lanseer vuurpyle daarvandaan. Die jongste beroep volg ná ‘n reeks bevele om die noordelike streek te ontruim, waar Israelse magte hul bedrywighede sedert vroeg in Oktober verskerp het. Die woordvoerder van die Israelse regering, David Mencer, het aan verslaggewers gesê hulle hou burgerlikes in Gaza weg van Hamas-vegters, sodat hul toegang kan kry tot die Hamas-lede wat steeds in die gebied is.
# Rugby: ‘n Volle naweek van toetsaksie wag op aanhangers. Ierland en Nieu-Seeland pak mekaar vanaand in Dublin in hul eerste ontmoeting sedert die All Blacks die Iere verlede jaar verslaan het in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi. Engeland en Australië speel môre op Twickenham, gevolg deur die kragmeting tussen Italië en Argentinië in Udine. Frankryk verwelkom daarna vir Japan in Parys. Sondag speel Wallis in Cardiff teen Fidji, en die naweek word afgesluit met die wedstryd tussen die Springbokke en Skotland op Murrayfield.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-896-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-687-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….