Nuus 11:00
BULLETIN 1 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel regter Margaret Victor aan as hoof van die Spesiale Tribunaal
# Voorlopige verkiesingsuitslae wys kiesers het Botswana se jare lange regerende party verwerp
# En krieket: Heinrich Klaasen is nou die duurste speler in die Indiese Premierliga
# President Cyril Ramaphosa het, met ingang van vandag, regter Margaret Victor vir die volgende drie jaar aangestel as president van die Spesiale Tribunaal. Hy het ook vyf bykomende regters op die tribunaal aangestel. Hulle is Thandi Victoria Norman, David Makhoba, Brian Mashile, Andre Henry Petersen en Chantel Moira Jennifer Fortuin. Die Presidensie sê die Spesiale Tribunaal het ‘n statutêre mandaat om staatsfondse terug te kry wat deur korrupsie, bedrog en die onwettige vloei van geld uit die staatskas gesteel is.
.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra ‘n deeglike hersiening van die kiesstelsel weens strukturele vooroordele wat die demokrasie benadeel. Hulle is van mening die bestaande raamwerk bevoordeel gevestigde politieke partye en benadeel kleiner partye en onafhanklike kandidate. Woordvoerder Rachel Fischer vra vir hervormings vir billike toegang tot hulpbronne en mediadekking, wat noodsaaklik is vir uiteenlopende politieke verteenwoordiging en die herbou van openbare vertroue in die regering:
# Die EFF in Tshwane sê die stadsraad se oorsigkomitees speel ‘n noodsaaklike rol in die monitering en evaluering van die optrede van die uitvoerende gesag om aanspreeklikheid te verseker. Die party het die verkiesing van drie van sy lede as voorsitters van oorsigkomitees in die metro verwelkom. Dit is Godwin Ratikwane vir die Munisipale Rekeninge-oorsigkomitee, Ngoako Seanego vir Paaie en Vervoer en Rebecca Monchusi vir die Maatskaplike Ontwikkelingskomitee. Dumisani Baleni van die EFF sê die oorsigkomitees verseker openheid, deursigtigheid, en die doelmatige aanwending van belastinggeld:
# Voorlopige verkiesingsuitslae toon Botswana se regerende party het ʼn skokkende nederlaag gelei en sy greep van byna ses dekades op dié diamantryke land verloor. President Mokgweetsi Masisi se Botswana Democratic Party wat sedert sy onafhanklikwording van Brittanje in 1966 regeer het, het tot dusver net een setel gekry. Drie opposisiepartye het saam 31 van 61 setels gewen. Meer as een-miljoen mense uit ʼn bevolking van 2,6-miljoen was geregistreer om Woensdag te stem. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sal na verwagting later vandag die amptelike uitslag aankondig.
# Krieket: Heinrich Klaasen van Suid-Afrika het die duurste speler in die geskiedenis van die Indiese Premierliga geword met wie ‘n kontrak gesluit is. Sunriser Hyderabad het die paaltjiewagter en kolwer vir 48-miljoen-rand aangestel vir die 2025-seisoen, saam met kaptein Pat Cummins en Travis Head van Australië. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Faf du Plessis, is nie deur Royal Challengers Bengaluru gekontrakteer nie. Die verdedigende kampioene, Kolkata Knight Riders, het sy kaptein, Shreyas Iyer, laat gaan. Klaasen sê hy is opgewonde om steeds vir die Sunrisers te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-80-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-751-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….