Nuus 11:00
BULLETIN 31 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom gaan NERSA se goedkeuring van nuwe handelslisensies uitdaag
# Arnold Schwarzenegger ondersteun Harris terwyl die voormalige ruimtevaarder Buzz Aldrin vir Trump kies
# En rugby: Daar is twee nuwelinge in die Bok-groep vir die Afrika Vroue-sewes
# Eskom sê hy gaan die hof nader oor die Nasionale Energiereguleerder se besluit om vier nuwe elektrisiteitshandelslisensies uit te reik. Dit is ten spyte van die kragvoorsiener se beswaar dat meer as een lisensie om elektrisiteit te verskaf in dieselfde gebied uitgereik word. Die handelslisensies is toegeken aan Africa GreenCo, Green Electron Market, CBI Electric Apollo en Discovery Green. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê NERSA se besluit druis in teen sy eie reëls:
# ActionSA sê die 2024-minibegroting voldoen nie aan die regering van nasionale eenheid se beloftes nie. Die party se verteenwoordiger, Alan Beesley, het die verhoogde SAID-befondsing verwelkom, maar het die 1,1-persent ekonomiese groei-vooruitskatting gekritiseer en sê dis minder as die drie-persent wat nodig is. Beesley het aangevoer die regering verwaarloos die ekonomie se bestendigheid en behou ‘n oorgroot kabinet terwyl noodsaaklike dienste soos wetstoepassing, gesondheidsorg en onderwys daaronder ly. Hy het die begroting se voorkeure as onvoldoende bestempel en gevra daar moet dringend op Suid-Afrika se groot uitdagings gefokus word.
Die African Transformation Movement sê intussen hy is diep teleurgesteld oor die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se middeltermynbegroting. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê hoewel die minister die uitdagings van inkomsteskepping erken, het hy nie daarin geslaag om betekenisvolle oplossings vir dié kritieke kwessie te verskaf nie. Hy voeg by die regering moet uitdagende, transformasiebeleid aanvaar wat inkomste- en werkskepping vooropstel:
# Die akteur en gewese Republikeinse goewerneur van Kalifornië, Arnold Schwarzenegger, het die jongste bekende geword wat visepresident Kamala Harris steun in volgende week se Amerikaanse verkiesing. Schwarzenegger sê as Donald Trump wen, sal hy mense verdeel, beledig en nuwe maniere vind om on-Amerikaans te wees. Intussen het die beroemde ruimtevaarder Buzz Aldrin gesê hy staan agter Trump en loof hom vir sy ondersteuning van ruimteverkenning. Die sanger Nicky Jam het sy ondersteuning aan die oudpresident onttrek nadat ‘n komediant vir Puerto Rico beledig het op ʼn saamtrek van Trump.
# Rugby: Nompumelelo Mathe en Leigh Fortuin is twee nuwelinge in die Springbok Vroue-sewesspan vir die Afrika Vroue-sewestoernooi wat volgende naweek in Ghana plaasvind. Die drie top spanne sal kwalifiseer vir Wêreldrugby se uitdaagreeks. Suid-Afrika kom in hulle eerste wedstryd teen Burkina Faso te staan voor hulle sake uitspook met Zimbabwe en Tunisië in Groep A. Die hoofafrigter, Renfred Dazel, sê Mathe en Fortuin het ‘n groot indruk gemaak sedert hulle aansluiting by die oefenkamp:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-192-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-780-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….