Nuus 11:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN
30 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement wil ‘n hervormende mediumtermynbegroting hê
# Daniel Smit word Maandag gevonnis vir die moord op Jerobejin van Wyk in Klawer
# En, Israel gaan voort om sy optrede in die noorde van Gaza te regverdig
# Die African Transformation Movement sê hy verwag ‘n middeltermynbegrotingsraamwerk wat nie net ‘n finansiële plan is nie, maar ‘n hervormingsplan. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer vandag die begrotingsraamwerk in die Parlement – die eerste sedert die vorming van die regering van nasionale eenheid. Zama Ntshona van die ATM sê die begroting moet fokus op werkskepping, voedselsekerheid, die versterking van die Polisiediens, ‘n oplossing vir onwettige handel en regverdige belasting vir ondernemings in buitelandse besit:
Die vakbondfederasie Cosatu betoog intussen vandag buite die Parlement voor die minibegrotingsrede. Hoofsekretaris Solly Phetoe sal die betoging in Kaapstad lei en eis ‘n moedige en progressiewe begroting wat ekonomiese groei stimuleer, werk skep en verseker openbare dienste van gehalte word gelewer. Woordvoerder Malvern de Bruyn pleit vir beleid wat die behoeftes van Suid-Afrikaanse werkers en gemeenskappe voorop stel:
# Die man wat skuldig bevind is aan die moord op ‘n tiener van Klawer in die Wes-Kaap in 2022, word Maandag gevonnis. Die betoë ter strafversagting en -verswaring van Daniel Smit is gister afgehandel in die Hooggeregshof wat in die buurdorp Vredendal sit. Die 58-jarige het vroeër skuld erken aan die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk. Sy regspan het gevra vir 30-jaar tronkstraf, maar die staat dring aan op lewenslank. Smit het die bakkie waarmee hy Jerobejin omgery het voor hy hom vermoor het, aan sy gesin aangebied as vergoeding.
# Die Israelse Weermag verdedig sy voortgesette operasies in die noorde van Gaza en sê dis om te keer dat Hamas hergroepeer. Meer as 90 mense, waaronder 25 kinders, is gister in Beit Lahiya dood toe ‘n veelverdiepinggebou in ʼn Israelse lugaanval getref is. Die aanval volg ʼn dag nadat Israel die Verenigde Nasies se Agentskap vir Palestynse Vlugtelinge verbied het om in die land te werk. Die Weermag sê hy het ʼn vermeende terroris geteiken en probeer verstaan waarom daar so baie mense in die gebied was tydens die lugaanval.
# Netbal: Die Proteas se nuwe hoofafrigter, Jenny van Dyk, sê sy sien uit om uiteindelik haar termyn op dreef te kry. Kaptein Khanyisa Chawane sal Suid-Afrika aanvoer wanneer hulle van môre tot Sondag in Johannesburg teen Malawi te staan kom in ʼn reeks van drie toetse. Die Proteas is tans vyfde op die wêreldranglys en Malawi sewende. Van Dyk sê dis ‘n baie belangrike reeks vir hulle:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-281-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-787-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….