Nuus 11:00
BULLETIN 29 Oktober 11vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson sê die regering moet die Uitgebreide Openbarewerkeprogram hervorm
# Kaapstad se strande spog steeds met agt Blouvlag-toekennings
# En Jeff Bezos verdedig die skrapping van Washington Post se presidensiële onderskrywing
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê die regering moet sy program van Uitgebreide Openbare Werke hervorm om te verseker dat begunstigdes beter betaling ontvang deur permanente aanstellings. Die program was ‘n noodsaaklike instrument om aandag te skenk aan die armoedekwessie in talle gemeenskappe en terselfdertyd dienslewering te verbeter. Macpherson sê die program bring waardigheid en vaardigheidsontwikkeling na gemeenskappe wat dit benodig:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê munisipaliteite se mislukkings met dienslewering hou nie net ‘n bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie en bestendigheid in nie, maar ook vir Afrika suid van die Sahara. Gauteng het die vierde grootste ekonomie in Afrika, naas die hele Suid-Afrika, Egipte en Nigerië. ʼn Woordvoerder van die VF Plus, Jaco Mulder, sê die provinsie moet dringend by Gautengse munisipaliteite ingryp:
# Die Stad Kaapstad sê agt van sy strande het vir die 2024/’25-seisoen die gesogte Blouvlag-status ontvang. Dié internasionale erkenning word toegeken aan strande wat die hoogste standaarde in omgewingsbestuur, watergehalte, veiligheid, dienste en omgewingsopvoeding handhaaf. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die stad bly verbind om die beste strand-ervarings te bied terwyl hy terselfdertyd omgewingsbewaring nastreef:
# Die eienaar, Jeff Bezos, het Washington Post se besluit verdedig om nie ʼn Amerikaanse presidentskandidaat te onderskryf nie. Die redaksionele raad wat afsonderlik is van die joernaliste wat daar werk, het dekades lank ʼn moontlike president gesteun. Bezos, wat ook Amazon se uitvoerende hoof is, sê indien ondersteuning aan ʼn kandidaat gepubliseer word, sal dit lesers se vertroue in die koerant se integriteit ondermyn. Volgens berigte is ʼn konsepkennisgewing om Kamala Harris aan te beveel, reeds opgestel. Die besluit het groot ontsteltenis ontlok en sowat 200-duisend lesers het hul intekening gekanselleer.
# Krieket: Bangladesj se draaibouler, Taijul Islam, sê sy span is vasberade om die reeks teen Suid-Afrika gelykop te maak met ‘n oorwinning in die tweede en laaste toets wat vanoggend in Chattogram begin het. Bangladesj het die eerste toets met sewe paaltjies verloor. Die Suid-Afrikaners hoop om skoonskip te maak en op te skuif op die Wêreldtoetskampioenskap se punteleer. Die Proteas is tans vyfde en Bangladesh agtste. Die Proteas se waarnemende kaptein, Aiden Markram, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-980-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-754-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….