Nuus 11:00
BULLETIN 28 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering is daarop ingestel om die spoornetwerk die ruggraat van openbare vervoer te maak
# Die ATM is geskok oor die ongebreidelde korrupsie in die Polisiediens
# En Kamala Harris beskuldig Trump van ‘n selfsugtige wraakveldtog
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is nou op die regte spoor om ‘n openbare vervoerstelsel te vestig wat veiliger, doeltreffender en meer bekostigbaar is. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief ‘n besondere fokusgebied van die regering van nasionale eenheid is om ‘n spoornetwerk te ontwikkel tot die ruggraat van vervoer in Suid-Afrika. Hy sê daar word gewerk aan die ontwikkeling van ‘n Nasionale Spoormeesterplan wat die toekoms van spoorvervoer sal uiteensit. Ramaphosa voeg by die meesterplan sal passasierspoorvervoer in stede dek, wat die snelspoordiens insluit.
# Die African Transformation Movement is hoogs ontsteld oor die gedurige onthullings oor ongebreidelde korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het in die 2022/’23 verslagjaar 177 aktiewe korrupsiesake teen polisiebeamptes aangemeld. Zama Ntshona van ATM sê die openbare vertroue in die polisie is op ‘n algehele laagtepunt met aansienlike gedeeltes van die bevolking wat sê hulle het bitter min of geen vertroue in die vermoë van die SAPD om wet en orde onpartydig te handhaaf nie:
Verkeersopsieners in Gauteng versterk intussen openbare veiligheidspogings in townships, informele nedersettings en sentrale sakedistrikte. Die beamptes werk saam met wetstoepassingsagentskappe, waaronder die polisie en die metropolisie. Woordvoerder Sello Maremane sê die doel met die veldtog is om misdaad doeltreffend aan te pak. Hy sê die provinsiale regering het ook belê in opleiding en toerusting, wat insluit 624 pistole, hommeltuie en geslotebaan kringtelevisie:
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, het oudpresident Donald Trump beskuldig van ‘n selfsugtige veldtog van wraak, terwyl sy en haar ondersteuners werk vir ‘n beter toekoms vir alle Amerikaners. Sy het ‘n saamtrek toegespreek in Pennsylvania, een van die deurslaggewende deelstate, voor die presidentsverkiesing op 5 November. Byna 42-miljoen Amerikaners het reeds hulle kruisies getrek voor stemdag. Harris sê die verkiesing is ‘n kans om die vrees en verdeeldheid om te keer wat die kenmerk geword het van die politiek in Amerika:
# Rugby: Engeland se hoofafrigter, Steve Borthwick, het die veteraan-losskakel George Ford, Alex Coles en Ted Hill opgeroep vir die groep van 36 spelers voor Saterdag se toets teen Nieu-Seeland op Twickenham. Ford moes sy fiksheid bewys nadat hy ‘n dyspierbesering opgedoen het terwyl hy vir Sale gespeel het. Ollie Chessum is weens ‘n kniebesering nie beskikbaar nie, terwyl Charlie Ewels tans gereed maak om terug te keer. Die wedstryd is die eerste van vier kragmetings vir Engeland, wat ook te staan kom teen Australië, Suid-Afrika en Japan.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-331-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-741-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….