Nuus 11:00
BULLETIN 26 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement berei voor om oorsig oor die Presidensie uit te brei
# Die Regering gaan ‘n Township Ekonomiese Beleid opstel te midde van die spazawinkel voedselvergiftiging-gevalle
# En, rugby: ‘n Naelskraapse oorwinning vir die Bulle in die VRK-kragmeting teen Benetton
# Die Parlement werk aan ‘n voorstel om die Presidensie onder die toesig te plaas van die portefeuljekomitee oor Beplanning, Monitering en Evaluasie. Dit is in die verlede teengestaan deur die ANC, maar die party steun nou die maatreël en verkies dat ‘n minister rekenskap gee van die begroting van die Presidensie. Opposisiepartye soos die EFF en die MK-party eis direkte aanspreeklikheid deur die president of adjunkpresident. Sou dit goedgekeur word, sal dit die eerste keer in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis wees dat die Presidensie se werksaamhede onder volle wetgewende oorsig is.
# Die Departement van Kleinsakeontwikkeling en die regering stel ‘n township en landelike ekonomiese beleid op om spazawinkels te reguleer na gevalle van voedselvergiftiging in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Tydens ‘n debat in die Parlement het politieke partye beklemtoon die stap is nie xenofobies nie, en gevra winkels wat nie voldoen aan standaarde nie moet sluit. Minister Stella Ndabeni-Abrahams het bevestig daar word gewerk aan ingryings, samesprekings en regulasies vir mikro-ondernemings:
# Die Departement van Binnelandse Sake bied paartjies ‘n herdruk aan om hul huwelike as Moslems te erken teen ‘n fooi van 20-rand. Drie-en-dertig huweliksertifikate is onder die nuwe klassifikasie uitgereik, die eerste amptelike erkenning van Moslem-verbintenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê met die herdruk-opsie kan Moslem-egpare hul huwelikstatus formaliseer, wat die regering se erkenning bevestig:
# ‘n Spesiale amptelike gedenkdiens word vandag by die Universiteit van die Wes-Kaap gehou vir die voormalige minister van Arbeid Membathisi Mdladlana. Die gerespekteerde ANC-aktivis en stigterspresident van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie is verlede Vrydag op 72 oorlede. Hy is deur president Nelson Mandela as minister aangestel en is in die pos behou deur president Thabo Mbeki, Kgalema Motlanthe en Jacob Zuma. Hy het ook gedien as Suid-Afrika se ambassadeur in Burundi en hoëkommissaris in Kanada. Hy word Woensdag privaat veras.
# En, rugby: Die Springbok-haker Akker van der Merwe se verdoelde drie laat in die wedstryd het gisteraand die Bulle ‘n oorwinning van 17-15 teen Benetton besorg in hulle Verenigde Rugby Kampioenskap-kragmeting in Treviso in Italië. Benetton het heeltyd voorgeloop maar Van der Merwe het dit reggekry om die telling gelykop te maak. Die heelagter David Kriel het kop gehou en die doelskop was in die kol vir die sege op die nippertjie. Die Bulle is steeds die beste Suid-Afrikaanse konsessie in die VRK en behou hulle tweede plek op die punteleer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….