Nuus 11:00
BULLETIN 25 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sewe mense is doodgeskiet in Bishop Lavis, Kaapstad
# Die VF Plus sê giftige spaza-kos is onderliggend tot probleme in die kitskosbedryf
# En, Venezuela is woedend vir Brasilië oor die BRICS-veto
# Die Wes-Kaapse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur nadat sewe mense gisteraand in Bishop Lavis vermoor is. Woordvoerder Andrè Traut sê ʼn gewapende verdagte het gisteraand omtrent 20 voor nege by ʼn informele woning in Kogelbergstraat ingegaan en op die mense losgebrand. Hy sê ses is op die toneel dood en ‘n sewende later in die hospitaal, terwyl twee mense gewond is:
# Die Vryheidsfront Plus sê die onlangse sterftes en siektes onder ʼn groot aantal kinders wat volgens berigte giftige kos by spazawinkels en straatsmouse gekoop het, toon hoe swak bestaande wette en verordeninge toegepas word. Woordvoerder Philip van Staden sê munisipale wetstoepassing moet versterk word met ondersteuning van die provinsiale en nasionale regerings. Hy sê daar moet onmiddellik aandag gegee word aan die afdwing van wette en verordeninge by sulke informele voedselverkooppunte:
# Die Patriotic Alliance het aansienlike sukses behaal in ʼn tussenverkiesing in die George-munisipaliteit. Die party het sy steun verdubbel sedert die plaaslike verkiesing van 2021 en ʼn belangrike setel in die munisipaliteit behou. Die DA het twee wyke in die Stad Kaapstad en Stellenbosch behou. Die GOOD-party het intussen by die Verkiesingskommissie ʼn klagte ingedien teen die DA en die PA. Die party beweer, sonder om enige bewyse voor te lê, dat verteenwoordigers van die DA en die PA vir kiesers kospakkies aanbied en mense dreig as hulle vir ʼn ander party stem.
# Venezuela het Brasilië se besluit veroordeel om dié land se toelating tot die BRICS-groep van opkomende ekonomieë te veto. Venezuela se ministerie van Buitelandse Sake beskryf dit as immorele aggressie. Die verhouding tussen die twee linksgesinde regerings het verswak sedert Venezuela se betwiste presidentsverkiesing in Julie. Die Russiese president, Vladimir Putin, wat die beraad aangebied het, sê Venezuela sal slegs toegelaat word indien BRICS-lede eenparig toestemming gee. Die jongste beraad word beskou as ʼn geleentheid vir Putin om te wys pogings om Rusland af te sonder oor sy inval in Oekraïne het misluk.
# Sokker: Japan se beheerliggaam sê hy wil die vroue-Wêreldbekertoernooi in 2031 aanbied om die spel plaaslik te laat groei. Japan het die beker in 2011 gewen, maar sukkel sedertdien terwyl die vrouespel in Europa floreer. Die span het vier jaar later in die eindstryd teen Amerika verloor en kon daarna nog nie weer verder as die kwarteindronde vorder nie. Japan het die manstoernooi in 2002 saam met Suid-Korea aangebied, wat gelei het tot reuse-belangstelling in die sport in die land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-495-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-729-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….