Nuus 11:00
BULLETIN 24 Okotber 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile belê die regering van nasionale eenheid se tweede geskiloplossingsvergadering
# Die DA vra dringende en beslissende optrede om afpersing te bekamp
# En rugby: Aphelele Fassi sê hy fokus nou net op die Haaie
# Adjunkpresident Paul Mashatile belê vandag die tweede vergadering van die regering van nasionale eenheid se geskiloplossings-meganisme. Die platform, wat deur president Cyril Ramaphosa geskep is, is daarop gemik om aandag te gee aan beleidsgeskille onder die tien politieke partye in die regering. Sleutel-onderwerpe sluit in die verwysingsraamwerk vir die meganisme, die jongste voorbereidings vir die G20-beraad, die BELA-wet, en uitdagings waarmee koalisie-regerings op provinsiale en plaaslike vlak te kampe het.
# Die DA verwelkom die voorlopige verslag oor afpersing wat ter tafel gelê is in die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, en die uitwerking uitlig van afpersingsindikate op die land. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, het in Julie verlede jaar onthul die boubedryfmafia kos die ekonomie ‘n beraamde 68-miljard-rand. Lisa Schickerling van die DA sê afpersingsindikate lê nie net die ekonomie lam nie, maar kniehalter ook klein-, medium- en mikro-ondernemings geweldig:
# Speurders van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid het met ‘n soektog begin nadat gewapende mans gisteraand vyf mense in Atlantis, Kaapstad, doodgeskiet het. Polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê die slagoffers was in drie voertuie op pad huis toe van Silwerstroom-strand toe die skietery in Ou Mamre- en Silwerstroom-weg plaasgevind het. Sy sê die motief vir die skietery sal na verwagting duidelik word soos die ondersoek vorder:
# Die polisie in Gauteng het bevestig hulle het ʼn man in hegtenis geneem in verband met die moord op die sesjarige Amantle Samane van Orlando, Soweto. Haar liggaam is in ʼn hut naby haar huis gevind. Sy is volgens berigte verkrag voordat sy vermoor is. Die polisie het saam met Interpol en ander grensbestuursowerhede gewerk om die verdagte, moontlik ʼn Mosambieker, vas te trek.
# Rugby: Die Springbok-heelagter Aphelele Fassi sê hy fokus nou net daarop om die Haaie Saterdag op Kingspark te help om Munster ore aan te sit in hulle vyfde Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd van die seisoen. Hy is een van drie talentvolle heelagters in Bok-afrigter Rassie Erasmus se groep van 35 vir volgende maand se oorsese toer, saam met Damian Willemse wat terugkeer na ‘n besering en die veteraan Willie le Roux. Fassi sê hy wil die Haaie op ‘n hoë noot groet voor hy Sondag by die Bokgroep aansluit:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-154-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-735-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….