Nuus 11:00
BULLETIN 22 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers sê ‘n nie-regeringsorganisasie mislei die publiek oor suikerbelasting
# Talle inwoners van Nelson Mandelabaai moes ontruim weens swaar reën en oorstromings
# En rugby: Twee nuwelinge is ingesluit in Wallis se groep vir die komende toetse
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers beskuldig ‘n Amerikaanse nie-regeringsorganisasie, Healthy Living Alliance, dat hy die publiek mislei oor die voorgestelde suikerbelasting op versoete drankies. Hulle voer aan hierdie druk is op die verkeerde inligting gegrond en bedreig die voortbestaan van duisende kleinskaalse suikerboere. Die uitvoerende hoof van die Suikerrietkwekers, Thomas Funke, sê baie faktore dra by tot Suid-Afrika se voedingsuitdagings afgesien van net suikerverbruik:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die departement het tussen April en Augustus 19-duisend-750 onwettige immigrante uit die land gesit. Hy sê in ʼn geskrewe antwoord in die Parlement dit het belastingbetalers 52-miljoen-rand gekos. Die minister sê daar is 68-duisend-991 vlugtelinge in die land. Hulle kom hoofsaaklik van Somalië, Ethiopië en die Demokratiese Republiek die Kongo. Daar is 94-duisend-416 asielsoekers. Schreiber sê die Grensbestuursowerheid het dringend meer fondse nodig.
# Swaar reën oornag het tot oorstromings gelei wat veroorsaak het dat tientalle inwoners van die Oos-Kaap, veral in Gqeberha en Kariega, hul wonings moes ontruim. Hulle word tans in gemeenskapsale en skole gehuisves. ʼn Vlak ses-waarskuwing oor swaar reën is gister uitgereik. Gift of the Givers se bedryfsbestuurder, Ali Sablay, het aan die SABC gesê hulle praat tans met plaaslike rampbestuurspanne wat probeer om nog inwoners uit verskeie gebiede na veiligheid te neem:
# Die omstrede Hollywood-vervaardiger, Harvey Weinstein, is met chroniese beenmurgkanker gediagnoseer. Hy ondergaan behandeling in die gevangenis op Rikers-eiland in New York. Die New Yorkse Appèlhof het in 2020 Weinstein se skuldigbevinding op ‘n aanklag van verkragting omgekeer. Hy sal op 12 November herverhoor word. Aanklaers in Manhattan probeer om sy oorspronklike seksuele misdade van 2020 te kombineer met ‘n nuwe aanklag, ‘n stap wat sy regspan teenstaan.
# Rugby: Wallis se afrigter, Warren Gatland, het die nuwelinge Freddie Thomas en Blair Murray ingesluit in die groep van 35 spelers vir die komende toetse teen Fidji, Australië en Suid-Afrika. Die 31-jarige skrumskakel, Rhodri Williams, is herroep, meer as tien jaar nadat hy die laaste keer vir Wallis uitgedraf het. Die haker Dewi Lake sal steeds die span aanvoer. Wallis het sy laaste nege toetse verloor. Gatland sê hy is tevrede met die groep se balans:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-574-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-735-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….