Nuus 11:00
BULLETIN 21 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema eis die vrystelling van die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag oor die Tesourie
# ActionSA wil hê die Johannesburgse burgemeester moet Kabelo Gwamanda verwyder as burgemeesterskomiteelid na sy inhegtenisneming
# En krieket: Die Protea-kaptein sê die Kiwi’s het hulle uitoorlê in die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die EFF-leier, Julius Malema, het van president Cyril Ramaphosa die vrystelling geëis van die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag oor die Nasionale Tesourie se kontrak van ‘n miljard-rand vir die Geïntegreerde Finansiële Bestuurstelsel. Die Ouditeur-Generaal het verlede week aan die Parlement gesê die tender, wat op ‘n bedrieglike manier aan Oracle toegeken is, het uitgeloop op ‘n finansiële verlies van meer as 400-miljoen-rand. Die EFF sê dit is duidelik ‘n korrupsiesaak en finansiële wanbestuur. Hy voeg by Ramaphosa se weerhouding van die SOE se verslag ondermyn deursigtigheid en aanspreeklikheid.
# Die Departement van Gesondheid sê die onlangse vlaag voedselverwante siektes en sterfgevalle, veral by skole, is kommerwekkend. Die Gautengse Gesondheidsdepartement het die afgelope jaar 203 gevalle van voedselvergiftiging en ses sterftes aangemeld. In Limpopo is 35 leerders ‘n week gelede vir moontlike voedselvergiftiging behandel. Die departement se nasionale woordvoerder, Foster Mohale, sê ses staatsliggame, insluitend die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, het tydens ʼn vergadering tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn chemiese middel die oorsaak is:
# ActionSA in Johannesburg vra burgemeester Dada Morero om die Al Jama-ah-raadslid Kabelo Gwamanda uit al sy uitvoerende rolle te verwyder. Die voormalige Johannesburgse burgemeester is uit op borgtog nadat hy Vrydag in Soweto in hegtenis geneem is vir sy beweerde betrokkenheid by ‘n beweerde begrafnispolisbedrogspul. Khomo Mashala van ActionSA sê Gwamanda se verwydering sal hom toelaat om die aanklagte teen hom te hanteer sonder dat dit sy kantoor in gevaar stel:
# Israel se minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, sê hulle gaan diplomatiese en regsoptrede teen Frankryk instel. Dit volg nadat Frankryk besluit het om Israelse maatskappye wie se wapens in Gaza en Libanon gebruik word, te verbied om volgende maand aan die toonaangewende Vloot-wapenhandelskou in Parys deel te neem. Katz beskryf die boikot as ʼn maatreël teen demokrasie wat veral tussen vriendelike nasies onaanvaarbaar is. Die Franse president, Emmanuel Macron, het verlede maand ʼn wapenverbod teen Israel gevra.
# Krieket: Die kaptein van die Proteas, Laura Wolvaardt, erken Nieu-Seeland was beter as hulle in gister se eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue in Dubai. Die Kiwi’s het met 32 lopies gewen, en Suid-Afrika ‘n tweede agtereenvolgende loesing in ‘n eindstryd toegedien. Nieu-Seeland het 158 vir vyf in hulle 20 boulbeurte aangeteken en die Proteas daarna beperk tot 126 vir nege. Wolvaardt sê hulle het nie hulle beste krieket gespeel teen ‘n teenstander van gehalte nie:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-712-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-731-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….