Nuus 11:00
BULLETIN 11 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die uiteenlopende sienswyse van vroue sal in die Nasionale Dialoog weerspieël word
# Aartsbiskop Makgoba sê die Nasionale Dialoog moet vry wees van uitbuiting deur die politieke en ekonomiese elite
# En Australië gaan ook volgende maand ‘n Palestynse staat erken
# President Cyril Ramaphosa sê geen regeringsbesluit mag geneem word sonder om in ag te neem hoe dit vroue raak nie. Organisasies vergader Vrydag vir die Nasionale Konvensie in Pretoria om die Nasionale Dialoog se proses te begin. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief gegewe die geskiedenis van vroue in die land se stryd, verwag hy dat hulle weer na vore sal kom en aktief deelneem aan die dialoogproses. Ramaphosa voeg by uiteenlopende menings en voorkeure van alle Suid-Afrikaanse vroue sal weerspieël word.
Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, sê intussen die Nasionale Dialoog moet ‘n sukses wees om armes en agtergeblewenes te bevoordeel. Belangrike organisasies agter die veldtog, insluitend die Thabo Mbeki-stigting en die Desmond en Leah Tutu-stigting, het onttrek aan die beplanningsproses en die Nasionale Konvensie. Hulle is bekommerd oor onvoldoende voorbereidingstyd en te veel staatsbeheer. Makgoba sê om geloofwaardig te wees, moet die dialoog vry wees van manipulasie deur die politieke en ekonomiese elite.
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê dié provinsie is Afrika se toerisme-poort wat die beste met die wêreld verbind is. Meer as 3,8-miljoen internasionale passasiers het in die 2024/25-boekjaar die provinsie binnegekom. As gevolg van hierdie toename was internasionale toeriste se bydrae tot die ekonomie 41-miljard-rand terwyl die teiken 29-miljard-rand was. Maile sê ondanks die positiewe groei, bedreig geopolitieke spanning die sektor en die hoë misdaadsyfer wek ook kommer:
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Anthony Albanese het aangekondig Australië sal die Staat van Palestina erken op volgende maand se 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Lande soos Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Kanada het reeds hul voorneme aangekondig om ʼn Palestynse staat amptelik te erken om hopelik vrede in die Midde-Ooste te bring. Israel sê hierdie erkenning beloon terrorisme. Albanese sê Australië se posisie is voorafgegaan deur beloftes wat hulle van die Palestynse Owerheid ontvang het:
# Sokker: Liverpool se afrigter, Arne Slot, erken hulle moet aanpassings maak om ʼn balans tussen aanval en verdediging te bereik. Crystal Palace het die heersende Premierliga-kampioen gister met drie strafdoele teen twee verslaan om die Gemeenskapskild op Wembley te buit. Slot sê hulle kwesbare verdediging is iets waaraan hulle moet werk voor Vrydag se Premierliga-openingswedstryd teen Bournemouth:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 122-duisend-116-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-364-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….