Nuus 11:00
BULLETIN 16 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die laaste drie verdagtes wat in verband met die Lusikisiki-slagting gesoek is, is vanoggend in hegtenis geneem
# Die DA vra ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na die Nasionale Vaardigheidsfonds
# En rugby: Die All Blacks verloor drie voorspelers weens beserings
# Die laaste drie gesoekte verdagtes wat verbind word met verlede maand se moord op 18 mense in Lusikisiki in die Oos-Kaap is vanoggend aangekeer. Die inhegtenisnemings volg minder as 24 uur nadat die polisie die hulp van die publiek gevra het met die opspoor van die verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 31. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê hulle gaan nie in dié stadium onthul waar hulle aangetref en in hegtenis geneem is nie omdat dit die ondersoek in die wiele kan ry:
# Die DA doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ‘n proklamasie uit te reik wat die Spesiale Ondersoekeenheid toelaat om die Nasionale Vaardigheidsfonds te ondersoek. Volgens die Nexus-verslag het 2,5-miljard-rand van die eenheid se fondse weggeraak en daar is in twee boekjare nie daarvoor rekenskap gegee nie. Desiree van der Walt van die DA sê die verslag onthul ook talle kommerwekkende bevindinge. Sy sê dit sluit in geen omsigtigheid met projekbefondsing nie, ongeverifieerde bankrekenings van begunstigdes, en ‘n gebrek aan oorsig nadat fondse uitbetaal is:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê meer as ‘n duisend onderwysers is verbind met bewerings van oortredings, wat seksuele wanoptrede en diskriminasie insluit. Die departement se jaarverslag toon dat een-duisend-59 gevalle tussen April verlede jaar en Maart vanjaar aangemeld is. Meer as 290 sake het uitgeloop op formele tugverhore, met 13 werknemers wat afgedank is weens drostery. Matthys Cronjé van die departement sê die oortredings het ingesluit die seksuele aanranding van ‘n leerder, oneerlikheid en onbehoorlike, skandelike en onaanvaarbare optrede.
# Israelse lugaanvalle het Beiroet se suidelike voorstede vanoggend getref. Dit is die eerste aanval in dae wat op dié gebied in Libanon uitgevoer word. Dit volg kort nadat die Israelse Weermag nuwe ontruimingsbevele uitgereik het aan inwoners naby ‘n gebou in die Haret Hreik-gebied van Dahiyeh, wat ʼn Hizbollah-vesting is. Die Israelse Weermag sê hy het ʼn ondergrondse wapenopslagplek getref met strategiese wapens wat aan Hizbollah behoort. Die Libanese ministerie van Gesondheid sê twee-duisend-350 mense is dood sedert die konflik tussen Israel en Hizbollah verlede maand verskerp het.
# Rugby: Die All Blacks moes weens beserings drie veranderings aanbring aan hulle groep vir die jaareind-toer, waar hulle te staan kom teen Japan, Engeland, Ierland, Frankryk en Italië. Die losvoorspelers Ethan Blackadder, Luke Jacobson en Dalton Papali’I is almal beseer. Die nuwelingflank Peter Lakai en Waikato Chiefs se slot, Josh Lord, is gevoeg by die groep wat reeds afgeskaal is van 36 tot 35 spelers. Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, sê die beserings bied geleenthede vir ‘n paar ander spelers:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-968-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-676-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….