Nuus 11:00
BULLETIN 15 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom waarsku munisipale skuld bedreig sy finansiële volhoubaarheid
# Solidariteit is gekant teen die wysigings aan die BELA-wet
# En, Brittanje stel sanksies in teen verskeie senior Iranse militêre amptenare en organisasies
# Eskom se finansiële hoof, Calib Cassim, waarsku toenemende munisipale skuld bedreig die kragvoorsiener se volhoubaarheid. Slegs 14 van die 72 plaaslike rade wat aangesluit het by die aansporingskema om hul Eskom-skuld te betaal, hou vol met hul terugbetalings. Cassim sê as munisipale skuld teen die huidige tempo toeneem, sal die agterstallige skuld van 85-miljard-rand teen die einde van hierdie boekjaar tot 100-miljard-rand klim en teen die einde van die 2025/’26-boekjaar tot byna 120-miljard-rand. Hy sê nog ‘n reddingsboei van die Tesourie sal dalk nodig wees.
# Solidariteit vra die publiek om volgende maand in Pretoria aan te sluit by sy versetoptrede teen wysigings aan die BELA-wet. Die vakbond asook AfriForum, is gekant teen die nuwe reëls wat staatsamptenare beheer oor skooltoelating en taalbeleid gee. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, doen ‘n beroep op gemeenskappe om op 5 November by die optog aan te sluit en druk op die regering uit te oefen om die wysigings te heroorweeg:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê altesaam 75-duisend-647 kandidate in die provinsie gaan vanjaar die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aflê. Van hulle is 64-duisend-375 voltydse kandidate en 11-duisend-272 deeltydse studente. Die eksamen begin Maandag wanneer 66-duisend-988 kandidate Engels moedertaal, eerste bykomende taal of tweede bykomende taal gaan skryf. Die LUR, David Maynier, sê hulle het 270 meer voltydse kandidate wat vanjaar skryf vergeleke met verlede jaar:
# Die Verenigde Koninkryk het nog sanksies aangekondig teen senior Iranse militêre figure en organisasies wat probeer om die Midde-Ooste onbestendig te maak. Dit volg op Iran se missielaanval op Israel op die eerste Oktober. Die sanksies sluit ʼn reisverbod en bevriesing van bates in. Persone wat geraak word, is onder andere Iran se Weermaghoof, Abdolrahim Mousavi, en sy adjunk, Mohammad-Hossein Dadras. Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Lammy, sê hulle sal voortgaan met pogings om spanning in die gebied te verminder.
# Rugby: Die Argentynse flank, Pablo Matera, is vir twee weke lank geskors vir ‘n rooikaart wat hy verlede maand in die laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen Suid-Afrika in Mbombela ontvang het. Hy is in afgestuur in die 56ste minuut omdat hy by ‘n skrum ingestorm het. Die Springbokke het 48-7 gewen. Die skorsing beteken Matera sal Argentinië se toets op nege November teen Italië in Udine misloop. Hy sal egter beskikbaar wees vir die wedstryd teen Ierland in Dublin en teen die Franse in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-717-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-648-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….