Nuus 11:00
BULLETIN 14 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê optimisme vir die werk van die regering van nasionale eenheid is bemoedigend
# BOSA is bekommerd oor die aantal personeellede in ministers se privaat kantore
# En ten minste 13 kinders is dood in Israelse lugaanvalle in Gaza
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners ondersteun toenemend die werk van die regering van nasionale eenheid. Volgens ‘n Ipsos-peiling glo vier uit tien mense wat daaraan deelgeneem het die land is op die regte pad, teenoor 20-persent in April. Hulle is bemoedig deur die vorming van ʼn sake-vriendelike koalisieregering en meer as ses maande sonder beurtkrag. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief ʼn stewige fondament is gelê, groei word opwaarts aangepas en die land beweeg in die regte rigting.
# Build One South Africa het kommer uitgespreek oor die grootte, koste, en onnodig groot personeelkorps van ministers se privaat kantore. Die party sê salarisse van personeel in die privaat kantore van net 18 ministers kos die staatskas jaarliks minstens 230-miljoen-rand. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, in ʼn departement wat werkloosheid moet teenwerk, het 23 personeellede wat jaarliks 17,8-miljoen-rand kos:
# Die DA in Tshwane sê die twee setels wat aan die EFF toegeken is in burgemeester Nasiphi Moya se burgemeesterskomitee is slegte nuus vir skoon administrasie en ‘n pro-groei-agenda. Die veelparty burgemeesterskomitee sluit vyf ANC-lede in, twee elk van die EFF en ActionSA, en een van die GOOD-party. Tshwane se voormalige burgemeester, Cilliers Brink, sê een van die nuwe EFF-lede op die komitee, Obakeng Ramabodu, is berug vir sy gewelddadige en rassistiese uitbarstings:
# Israelse bomaanvalle in Gaza het die dood van minstens 40 mense veroorsaak, waaronder 13 kinders. Vyf van die kinders is volgens berigte in ʼn hommeltuigaanval dood terwyl hulle op ʼn straathoek in die noorde van Gaza gespeel het. Dit volg nadat die Israelse Weermag die naweek Palestyne wat in die noorde van Gaza woon, opnuut gewaarsku het om die gebied te ontruim. Intussen word berig Israelse aanvalle op Gaza se grootste vlugtelingkamp, Jabalya, het die afgelope nege dae minstens 300 lewens geëis.
# Krieket: Sri Lanka se legendariese kolwer, Mahela Jayawardene, is heraangestel as hoofafrigter van Mumbai Indians nadat hy van 2017 tot ’22 die posisie beklee het. Hy vervang die voormalige Suid-Afrikaanse paaltjiewagter, Mark Boucher, wat twee jaar lank hoofafrigter was van die vyfmalige Indiese Premierliga-kampioen. Onder Boucher het Mumbai verlede jaar deurgedring na die uitspeelronde, maar vanjaar onderaan die punteleer geëindig met net vier oorwinnings in 14 wedstryde. Jayawardene sê hy sien uit na die opwindende uitdaging.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-79-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….