Nuus 11:00
BULLETIN 8 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is hartseer oor die moord op ses gemeenskapspatrolleerders in die Oos-Kaap
# Kamala Harris sê dit maak saak hoe Israel homself verdedig
# En krieket: ‘n Beseerde Bavuma kan dalk die toetsreeks teen Bangladesj misloop
# President Cyril Ramaphosa het die moord op ses gemeenskaps-patrolleerders in Qumbu in die Oos-Kaap as hartseer en verregaande beskryf. Die moorde volg ‘n week na die massaslagting in Lusikisiki. Die patrolleerders was volgens berigte Sondagaand besig om gereed te maak vir diens toe onbekende gewapende mans op hulle losgebrand het. Ses lede is dood en vier gewond. In Lusikisiki is 18 mense verlede Saterdag doodgeskiet. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê misdadigers moet gestop word, want hulle terroriseer gemeenskappe en glo hulle is onaantasbaar:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê alhoewel die vorming van ʼn regering van nasionale eenheid positiewe sentiment meebring, het ekonomiese groei optrede eerder as woorde nodig. Volgens die regering van nasionale eenheid se stigtingsooreenkoms, kry vinnige, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei voorkeur. ʼn Woordvoerder van die instituut, Hermann Pretorius, sê retoriek en sentiment gaan nie genoeg wees om die volhoubare groei te ontsluit wat nodig is om Suid-Afrikaners se vermoëns te ontsluit en miljoene nuwe werksgeleenthede te skep nie:
# Mediese nalatigheidseise wat die Gautengse Departement van Gesondheid uitbetaal het, het die afgelope jaar met 36-persent toegeneem en tot 696-miljoen-rand in 2023-/’24 gestyg, van 512-miljoen-rand die vorige jaar. Dit is volgens syfers wat die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, aan die Parlement verskaf het. Die minister sê die provinsie se gesondheidsdienste is geraak deur korrupsieskandale. Mediese regseise is landwyd steeds hoog, met 4,12-miljard-rand wat die afgelope drie jaar uitbetaal is. KwaZulu-Natal, Gauteng en die Oos-Kaap het die hoogste aantal eise aangeteken.
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, het herhaal dat Israel die reg het om homself te verdedig, maar volgens haar maak dit saak hoe hy dit doen. Tydens Hamas se aanval op Israel op sewe Oktober verlede jaar is een-duisend-200 mense vermoor, wat 46 Amerikaanse burgers insluit. Sowat 250 is gyselaar geneem. Israel se wraakaanvalle het volgens berigte gelei tot die dood van byna 42-duisend Palestyne. Harris het in ʼn onderhoud op CBS News’ 60 Minutes gesê ʼn skietstilstand in Gaza en Libanon is dringend nodig:
# Krieket: ‘n Besering kan die kaptein van die Protea, Temba Bavuma, uit die reeks van twee toetse teen Bangladesj hou wat die 21ste begin. Hy het Vrydag sy elmboog beseer in die tweede eendagwedstryd teen Ierland in Abu Dhabi en gister se laaste wedstryd misgeloop, toe Rassie van der Dussen die span aangevoer het. Dit is dieselfde probleem wat Bavuma twee jaar gelede ʼn lang ruk van die veld gehou het. Die spelers keer vandag terug van die Verenigde Arabiese Emirate en Bavuma sal dan ʼn spesialis raadpleeg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-468-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-635-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….