Nuus 11:00
BULLETIN 1 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF veroordeel minister Steenhuisen se aanstellings
# Gun Free South Africa vra dringende hervormings
# En, Brittanje huur ‘n vlug vir landsburgers om Libanon te verlaat
# Die EFF sê hy veroordeel die flagrante onbevoegdheid en korrupsie van die minister van Landbou en DA-leier, John Steenhuisen, wat binne die eerste 100 dae in sy amp nie daarin geslaag het om gekwalifiseerde personeel aan te stel nie. Hy het glo ‘n afwyking van die minimum aanstellingsvereistes vir kandidate in sy kantoor aangevra. Drie van die vier kandidate het matrieksertifikate, maar nie die minimum tersiêre akademiese kwalifikasies nie. Die EFF sê Steenhuisen toon ‘n algehele miskenning van bestuur en voorkeur aan persoonlike trou bo meriete.
# Die direkteur van Gun Free South Africa, Adèle Kirsten, is besorg oor die massaskietery van 18 mense die naweek in Lusikisiki. Statistieke toon 34 vuurwapen-verwante sterftes word daagliks aangemeld, met 24 vuurwapens wat wegraak. Kirsten het op Newzroom Afrika strenger vuurwapenhervormings bepleit asook die verbetering van die vuurwapenregister, en beklemtoon doeltreffende vuurwapenbeheer is noodsaaklik vir misdaadbekamping:
# Die GOOD-party sê die regering van nasionale eenheid moet keer dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement volgende jaar sowat twee-duisend-400 onderwysposte besnoei. Die departement sê hy het slegs 64-persent ontvang van die salarisooreenkoms waarop hy met die nasionale regering ooreengekom het, en die provinsie moet nou die orige 36-persent self befonds. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die Wes-Kaap is die enigste provinsie wat weier om geld rond te skuif om die gaping te vul:
# Die Britse regering het ‘n huurvlug gereël vir Britte wat Libanon wil verlaat te midde van toenemende geweld. Daar is kommer oor die toenemende geweld in die Midde-Ooste nadat die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah, die naweek in Israelse lugaanvalle op Beiroet dood is. Die Israelse Weermag het ook beperkte, plaaslike en geteikende grondaanvalle teen Hizbollah in Libanon van stapel gestuur. Brittanje se minister van Buitelandse Sake, David Lammy, sê die vlug sal môre vanaf die Beiroet-Rafic Hariri-Internasionale Lughawe vertrek:
# Sokker: Die president van die Kameroense Sokkerfederasie, Samuel Eto’o, mag vir ses maande nie nasionale mans- of vroue-wedstryde bywoon nie weens aanstootlike en wangedrag. Dit hou verband met verlede maand se Fifa Onder 20-vrouewêreldbeker tussen Kameroen en Brasilië. Die gewese doelskopper van Barcelona en Chelsea is skuldig bevind aan aanstootlike gedrag en skending van die beginsels van skoon spel en wangedrag deur spelers en beamptes. Fifa het nie besonderhede van Eto’o’ se gedrag bekendgemaak nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-918-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….