Nuus 11:00
BULLETIN 9 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# POPCRU veroordeel die wrede moord op twee polisiespeurders
# ActionSA heroorweeg sy deelname aan die Nasionale Dialoog
# En Vrouedag: Die DA eis sterker polisie-optrede teen geslagsgeweld
# Die polisie- en gevangenisvakbond, POPCRU in Gauteng het die moord gister in Roodepoort op twee SAPD-speurders sterk veroordeel. Die beamptes is in ‘n lokval gelei terwyl hulle ‘n gevangene van die plaaslike landdroshof vervoer het. Hy het in die polisievoertuig gevlug. Speurder-adjudant-offisier Sintwa en sersant Masenya is tydens die voorval doodgeskiet. POPCRU-woordvoerder Richard Mamabolo doen ‘n beroep op dringende hervormings en eis geregtigheid vir die gesneuwelde beamptes:
# ActionSA sê hulle sal hul deelname aan die Nasionale Dialoog op 15 Augustus heroorweeg, teen die agtergrond van die groeiende openbare ontevredenheid en kommer deur gerespekteerde stigtings oor regeringsbeheer en oorhaastige optrede. Die party waarsku die dialoog kan in ‘n foefie ontaard wat nie betekenisvolle hervorming tot gevolg het nie. ActionSA sê die inisiatief is afkomstig van alle vennote van die RNE, nie net die ANC nie, en dring aan op ‘n herevaluering om te verseker dat die proses tot werklike verandering lei, nie net kosmetiese betrokkenheid nie.
# Ondersteuners van die DA in Gauteng ruk vandag op na die Germiston Sentraal-polisiestasie om te eis vir meer hulpbronne van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp. Die DA Gauteng-polisiewoordvoerder, Lisa Schickerling, die DA-LP Michéle Clarke en die DA se adjunk-hoofsweep Michael Waters, lei die ondersteuners wat aandring op die vestiging van geslagsgeweld-lessenaars by elke stasie met opgeleide beamptes wat sensitiewe, professionele ondersteuning vir slagoffers kan lewer.
# Die familie van die wyle voormalige Zambiese president Edgar Lungu het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat gelas het dat sy oorskot na Lusaka gerepatrieer word vir begrafnis. Regterpresident Aubrey Ledwaba het gister dié bevel gelewer en die Zambiese regering se argument oor ‘n staatsbegrafnis ondersteun. Die familie betwis dit en sê die hof het belangrike gebeure oor die hoof gesien. Indien dit toegestaan word, sal die appèl in die Appèlhof aangehoor word. Lungu is twee maande gelede in Johannesburg oorlede.
# Die Gautengse Departement van Menslike Nedersettings is bekommerd oor ‘n video waarin amptenare beskuldig word dat hulle HOP-huise verkoop. Die woordvoerder, Tahir Sema beklemtoon dat behuisingstoekennings ‘n streng prosedure is via die Nasionale Behuisingsbehoefteregister. Sema waarsku die verfilming van personeel sonder toestemming skend privaatheidswette. Hy het die publiek gevra om bedrog aan te meld en sê geen staatsgesubsidieerde huise word verkoop of teen betaling bespoedig nie:
# En gholf: Die Suid-Afrikaner, Michael Hollick lei die Sonskyntoer FNB Eswatini-uitdaging nadat hy gister ‘n uitstekende tweede ronde 64 voltooi het, wat sy totaal aan die begin van die laaste dag op 12 onder baansyfer te staan bring. Hollick se landgenoot Pieter Moolman en Allen John van Duitsland is gelykop in die tweede plek met 11 onder. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Jake Redman, is in die derde plek met ‘n ronde van 63 en ‘n telling van 10 onder – net twee houe agter Hollick.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….