Nuus 11:00
BULLETIN 25 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie verskyn glo vandag voor die ANC se Integriteitskomitee
# ‘n Woonstelgebou in Midrand brand af en laat talle inwoners dakloos
# En, Die Israelse Weermag onderskep missiele uit Libanon
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, verskyn volgens berigte vandag voor die ANC se Integriteitskomitee in verband met die VBS Bank-bewerings. Sy sal volledig verslag doen oor die lening van ‘n halfmiljoen-rand wat sy van ʼn VBS-makelaar ontvang het terwyl sy Polokwane se burgemeester was. Simelane ontken dat sy iets verkeerd gedoen het. Sy het vroeër die maand aan die Parlement gesê die lening was wettig en is ten volle terugbetaal. Die komitee sal by die nasionale uitvoerende raad aanbeveel of daar teen die minister opgetree moet word.
# Die EFF eis dat die aanstelling van advokate Paul Pretorius en Matthew Chaskalson as konsultante in die Nasionale Vervolgingsgesag onmiddellik omgekeer word. Die twee is aangestel as aanklaers in sake in die staatskapingskommissie, waarin albei getuienisleiers was. Die EFF-woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê die onreëlmatigheid lê in die belangebotsing omdat hulle klagte sal lê op grond van aspekte van die getuienis wat hulle tydens die sittings ontwikkel en gelei het:
# Inwoners van die Broadwalk Urban Village-kompleks in Midrand, Johannesburg, is dakloos gelaat nadat ʼn reusebrand gisteraand 130 wooneenhede vernietig het. Die gebou se eienaars het gereël dat inwoners wat die kompleks moes ontruim, die nag in verskeie hotelle in Midrand deurbring. Die woordvoerder van Johannesburg se noodbestuursdienste, Xolile Khumalo, moedig inwoners aan om verblyfgeriewe deeglik te ondersoek voordat hulle intrek, en seker te maak alle elektriese toestelle is afgeskakel wanneer hulle dit klaar gebruik het:
# Die Israelse Weermag sê hy kon vandag ʼn missiel onderskep wat uit Libanon op Tel Aviv afgevuur is. Israel en die militante Hisbollah-groep wat deur Iran ondersteun word, voer reeds maande lank aanvalle uit op mekaar. Die onderskepping volg dae nadat meer as 500 mense in Libanon dood is in Israelse aanvalle op Hisbollah. Die Verenigde Nasies se Menseregte-woordvoerder, Ravina Shamdasani, is bekommerd oor die aantal ongevalle:
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus sê sy wil ʼn skitterende jaar op ʼn hoogtepunt afsluit deur weer die nommer een-posisie op die wêreldranglys te beklee. Die nommer twee is dié week die topgekeurde in die Chinese Ope nadat die nommer een en verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, weens persoonlike redes onttrek het. Sabalenka, wat pas die Amerikaanse Ope gewen het, kan met ʼn oorwinning in Beijing groot vordering maak om Swiatek te onttroon. Sy sal die eerste keer speel nadat sy Jessica Pegula in New York geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-766-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….