Nuus 11:00
BULLETIN 19 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu doen ’n beroep op die Reserwebank om die rentekoerse te verlaag
# PRASA en Transnet wag op die ondersoek ná die Paarl-ontsporing
# En, die VN-hoof waarsku teen ‘n dramatiese toename in konflik in die Midde-Ooste
# Cosatu doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank om rentekoerse te verlaag wanneer die Monetêre Beleidskomitee vandag vergader. Cosatu glo ‘n koersverlaging is nodig om die ekonomie te stimuleer en broodnodige verligting te bied, nadat inflasie tot 4,4-persent gedaal het en die ekonomiese aanwysers positief lyk. Zanele Sabela van Cosatu voer aan werkers wat aanhoudende finansiële swaarkry verduur, het verligting nodig om wydverspreide armoede te beveg:
# Die EFF sê hy veroordeel die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, wat volgens hom nie sy grondwetlike plig in die Parlement nakom nie. Die party beweer die minister het vanjaar net twee van die 16 vergaderings bygewoon en eenkeer minder as 10 minute gebly. Die EFF sê Tau, wie se departement gesag voer oor 18 sukkelende instellings, kon nie rekenskap gee vir sy rol om dit te stabiliseer nie. Die party doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die minister aanspreeklik te hou.
# PRASA en Transnet wag vir uitslae nadat ‘n trein ontspoor het by die Dal Josafatstasie naby die Paarl waarin 25 mense beseer is. Die trein was vanaf Kaapstad na Wellington onderweg toe die voorval plaasgevind het en dienste is opgeskort. Donald Selamolela van die Parlement se Portefeuljekomitee oor Vervoer, noem dit ‘n terugslag vir Prasa se herstel. Hy wag op die ondersoekverslag oor die oorsaak van die ontsporing:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, doen ‘n beroep vir ‘n einde aan die toenemende geweld in die Midde-Ooste, en sê alle partye moet maksimum selfbeheersing aan die dag lê. Dit volg ná ontploffings van tweerigtingradios wat aan die militante groep Hisbolla behoort, waartydens meer as 30 mense omgekom het en meer as drie-duisend oral in Libanon beseer is. Israel word hiervoor beskuldig. Guterres sê dit is onaanvaarbaar dat onskuldige burgerlikes steeds in die kruisvuur vasgevang word:
# Tennis: Die Amerikaner Coco Gauff, sesde op die wêreldranglys, het haar 14-maande vennootskap met die afrigter Brad Gilbert beëindig. Die 20-jarige het Gilbert verlede jaar aangestel om saam met die Spaanse afrigter Pere Riba te werk. Sy het kort daarna uitstekend presteer en onder meer die Amerikaanse Ope gewen as die jongste Amerikaanse vrouespeler sedert Serena Williams 25 jaar gelede. Riba is weg kort na Gauff die Amerikaanse Ope gewen het en hy rig nou die Olimpiese goue medaljewenner, Zheng Quinwen af.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-63-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-578-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….