Nuus 11:00
BULLETIN 18 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staatsdiensvakbond verwelkom die skorsing van die WVF-kommissaris
# Vyf-en-twintig is beseer toe ‘n trein naby die Paarl ontspoor
# En, sterrekykers sien ‘n seldsame supermaan en maansverduistering
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die skorsing van die Werkloosheidsversekeringsfonds se kommissaris, Tebogo Maruping, oor beweerde korrupsie en magsmisbruik. Maruping word beskuldig van sy betrokkenheid by ‘n twyfelagtige ooreenkoms van vyf-miljard-rand met Thuja Holdings. Claude Naiker van die vereniging prys die besluit en sê korrupsie binne die fonds benadeel kwesbare burgers en moet nie geduld word nie:
# Die adjunkminister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele, sê die Tesourie soek meer bewys dat die Poskantoor nie ‘n las op die fiskus sal wees nadat hy ʼn reddingsboei ontvang het nie. Poskantoor-base het vroeër die maand gewaarsku die instelling gaan teen volgende maand geen geld hê nie en sal bankrot verklaar word indien dit nie ʼn reddingsboei of waarborg van 3,8-miljard-rand van die regering ontvang nie. Gungubele het aan die Parlement gesê die reddingsboei sal nie lukraak toegeken word nie.
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika in die Wes-Kaap het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat 25 mense beseer is toe ‘n trein by die Dal Josafat-stasie naby die Paarl ontspoor het. Die trein was van Wellington na Kaapstad onderweg toe die ongeluk gisteraand gebeur het. Prasa se woordvoerder, Zinobulali Mihi, sê Transnet se Spoorvrag-afdeling ondersoek ook die voorval:
# Rugby: Die opkomende Springbok-ster, Sacha Feinberg-Mngomezulu, is ná ʼn knie-operasie vir sowat vier en ʼn half weke buite aksie. Die 22-jarige speler het verlede maand in Johannesburg sy knie in die eerste Rugbykampioenskap-wedstryd teen Nieu-Seeland beseer. Ten spyte daarvan was hy op die bank in die tweede toets teen die All Blacks in Kaapstad. Afrigter Rassie Erasmus sê Feinberg-Mngomezulu sal eers weer in November vir die toer na die Verenigde Koninkryk beskikbaar wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-16 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-484-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-569-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-24-sent per vat.
# En ter afsluiting, ʼn Supermaan het die wêreld oornag verlig en saamgeval met ʼn skaars, gedeeltelike maansverduistering. Die skouspel in die hemelruim was sigbaar oor Europa en die grootste gedeelte van Asië, Afrika, Noord- en Suid-Amerika. ʼn Gedeeltelike maansverduistering vind plaas wanneer die aarde tussen die son en volmaan inbeweeg sonder dat die drie ʼn perfekte lyn vorm. NASA in Amerika sê die volgende gedeeltelike verduistering sal in Augustus 2026 plaasvind wanneer sowat 96-persent van die maan in die skadu sal wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….