Nuus 11:00
BULLETIN 14 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kondig ‘n Spesiale Amptelike Begrafnis vir Pravin Gordhan aan
# Minister Lamola moedig globale optrede aan om die Gaza-volksmoord te beëindig
# En, rugby: Dis halfeindstryddag in die Curriebeker
# President Cyril Ramaphosa het aangekondig die struggle-strydros en voormalige kabinetsminister Pravin Gordhan sal Donderdag op ‘n Spesiale Amptelike Begrafnis Kategorie 2 ter ruste gelê word. DIe 75-jarige Gordhan het gedien as minister van Finansies en van Staatsondernemings. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die president het Gordhan geloof vir sy toewyding aan die bevryding van Suid-Afrika van apartheid:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, het ‘n einde gevra aan die volksmoord in Gaza tydens die jaarlikse wetgewende konferensie van die Congressional Black Caucus Foundation in Washington. Hy herbevestig Suid-Afrika se steun vir Palestina, en moedig die wêreld aan om te verenig teen Israel en druk uit te oefen vir ‘n Palestynse staat. Lamola beklemtoon die belangrikheid van voorspraak vir menseregte in Gaza:
# Die DA in die Wes-Kaap sê die Wet op Basiese Onderwyswette sal aanleiding gee tot ‘n finansiële krisis in die onderwyssektor. Hulle waarsku die wet sal minstens 17,7-miljard-rand kos om te implementeer en provinsies sal jaarliks ʼn bykomende twee-miljard-rand moet opdok. Die party het bekendgemaak dat geen befondsing vir die volgende drie jaar vir die implementering van die wet opsygesit is nie. Leon van Wyk van die DA sê die wet kan die onderwyssektor bankrot maak:
# PwC is vir ses maande in China verban en met meer as 1,1-miljard rand beboet oor sy ouditmislukkings rakende Evergrande, ‘n eiendomsmaatskappy wat verstrengel is in China se skuldkrisis. Chinese reguleerders het PwC gekritiseer omdat hulle nie in 2021 reeds Evergrande se finansiële kwessies geïdentifiseer het nie. PwC het erken sy ouditeure in China was nie op standaard nie, terwyl ‘n regsgeding in Hongkong die firma beskuldig van nalatigheid oor Evergrande se finansiële verslae.
# En, rugby: Die voorlopers op die punteleer, die Leeus, behoort as die gunstelinge beskou te word teen die verdedigende kampioene, die Cheetahs, wanneer die twee spanne vanmiddag in Johannesburg kragte meet in die eerste van twee halfeindstryde van die Curriebeker. Die wedstryd skop half-drie af. Die tweede halfeind, tussen die Bulle en die Haaie op Loftus Versfeld, behoort nog ‘n klassieke Curriebekerkragmeting te wees en is ‘n herhaling van die eindstryde van die 2020- en 2021-seisoene, beide gewen deur die span van Pretoria.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….