Nuus 11:00
BULLETIN 13 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beskryf Gordhan as ‘n baken in die stryd teen korrupsie
# Winde sê die Wes-Kaap staar ‘n begrotingsbesnoeiing van sewe-miljard-rand in die gesig
# En rugby: Daar is vier Bokke in die Haaie se span vir hul Curriebeker-halfeindstryd teen die Bulle
# President Cyril Ramaphosa sê die voormalige kabinetsminister en oudstryder, Pravin Gordhan, was ‘n baken in die land se stryd teen korrupsie. Die 75-jarige Gordhan, wat beskou is as die frontlinie van weerstand teen die voormalige president Jacob Zuma en die Gupta-geleide projek van staatskaping, is vanoggend in die hospitaal oorlede. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die land is dankbaar vir Gordhan se lewe van opoffering en diens:
In sy reaksie sê ActionSA Gordan se bydrae tot Suid-Afrika was geweldig. Lerato Ngobeni van ActionSA sê Gordhan was tydens sy ampstermyn as minister van Finansies bekend vir sy ferm standpunt oor fiskale dissipline en sy stryd teen korrupsie. Sy sê as minister van Staatsondernemings het hy hard gewerk om staatsbeheerde ondernemings te stabiliseer:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, waarsku die provinsie verwag ‘n beraamde sewe-miljard-rand begrotingsterugsnyding oor die volgende drie jaar. Dit is deels te wyte aan verlede jaar se nasionale salarisooreenkoms wat tot ‘n vermindering van een-miljard-rand gelei het en provinsies moes gevolglik die begrotingstekorte absorbeer. Die provinsiale Onderwysdepartement gaan volgende jaar twee-duisend onderwysposte sny met ‘n begrotingstekort van 3,8-miljard-rand. Winde het aan News24 gesê die ander sleuteldienste wat die swaarste getref gaan word deur die kontanttekort, is die Gesondheidsdepartement.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, is tans in Amerika op ‘n werksbesoek om die politieke en ekonomiese bande tussen die twee lande te versterk. Suid-Afrika het strategiese verhoudings met Amerika, wat ook die land se toonaangewende bron van regstreekse buitelandse beleggings is. Die ministerie se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê Amerika maak aansienlike bydraes tot die regering se pogings om armoede, werkloosheid en ongelykheid te verminder:
# Rugby: Die Haaie pak die Bulle Saterdag in die halfeindstryd om die Curriebeker op Loftus met vier Springbokke. André Esterhuizen en Francois Venter is die senters, Jordan Hendrikse begin op heelagter en Phepsi Buthelezi is agsteman. ‘n Voormalige Suid-Afrika A-speler, Lionel Cronjé, is op die bank. Afrigter John Plumtree het ses veranderings en een rotasieverandering aangebring aan die groep wat die Bulle in die laaste groepwedstryd verlede week in Durban verslaan het. Kaptein Vincent Tshituka verwag ʼn taai stryd en sê hulle is meer gemotiveerd omdat hulle nie die gunstelinge is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-902-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-565-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….