Nuus 11:00
BULLETIN 10 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF kritiseer die Nasionale Loterykommissie se magsbruik
# Die ATM sluit hom aan by oproepe vir geregtigheid vir slagoffers van die listeriose-uitbreking
# En, die Verenigde Nasies sê die oorlog in Gaza moet dringend beëindig word
# Die EFF sê die Nasionale Loterykommissie se misbruik van mag, finansiële wangedrag, en doelbewuste manipulering van die regstelsel kan nie geïgnoreer word nie. Dit volg omdat die kommissie steeds gebruik maak van die dienste van die regspraktisyns Cheadle Thompson en Haysom sonder ‘n kontrak of diensvlakooreenkoms, ondanks advies van sewe betroubare liggame. Die kommissie word beskuldig dat hy nie die kontrakte van 12 swart regspraktyke hernu het nie, maar steeds die dienste van die regspraktyk sonder ‘n kontrak gebruik. Die EFF sê hy sal eis dat die kommissie se raad voor die Parlement verskyn.
# Die DA sê hy gaan oor die volgende vyf jaar streng toesig hou oor voorbereidings vir die volgende sensusopname om seker te maak die mislukkings van 2022 word nooit weer herhaal nie. Statistieke Suid-Afrika het verlede maand ‘n nuwe verslag uitgereik waarin hy sê Sensus 2022 se inligting oor indiensneming, inkomste, sterftes en geboortes sal nie uitgegee word nie weens kommer oor die gehalte van die data. Katherine Christie van die DA sê landsburgers verdien betroubare inligting vir billike beplanning:
# Die African Transformation Movement is verontwaardig oor die gebrek aan aanspreeklikheid en geregtigheid vir die slagoffers van die listeriose-uitbreking. Tiger Brands se Enterprise Foods-fabriek in Polokwane is in 2018 geïdentifiseer as die bron van die uitbreking wat tussen 2017 en ’18 218 lewens geëis het. Ses jaar later moet die groepsgeding namens slagoffers en hulle gesinne nog in die hof aangehoor word. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, doen ‘n beroep op alle partye om die vertragingstaktiek te staak:
# Die Verenigde Nasies sê dis noodsaaklik om die oorlog in Gaza te beëindig en volskaalse konflik in die streek te voorkom. Minstens 40 mense is in die jongste aanval dood nadat Israel volgens berigte ʼn aangewese humanitêre gebied geteiken het. Die VN se menseregtekommissaris, Volker Türk, sê state mag nie internasionale wette oortree nie. Hy sê dit sluit bindende besluite van die Veiligheidsraad en opdragte van die Internasionale Geregshof in:
# Motorsport: Die hoof van McLaren se Formule Een-span, Andrea Stella, sê hulle moet die mededingendheid van hulle renmotor verder ontgin. Lando Norris van McLaren het Max Verstappen van Red Bull se kampioenskaps-voorsprong tot 62 punte verminder. Red Bull het nou ‘n voorsprong van agt punte teenoor McLaren op die vervaardigerspunteleer. Stella sê Ferrari se verbeterde vertoning is goed aangesien meer motors wat punte van Red Bull wegneem, positief vir sy span kan wees. Ná die naweek se Grand Prix in Azerbaijan is daar nog net sewe wedrenne oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-800-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-503-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….