Nuus 11:00
BULLETIN 7 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA kritiseer die Gesondheidsdepartement se versuim om ongedokumenteerde buitelandse pasiënte op te spoor
# Die EFF bevraagteken die koste van die Madlanga-kommissie se vergaderlokaal
# En vyf leerders is in hegtenis geneem nadat twee klaskamers by ‘n skool in Gauteng afgebrand is
# ActionSA het die Gesondheidsdepartement kritiseer vir die versuim om die getal ongedokumenteerde migrante vas te stel wat van die land se gesondheidsorg-geriewe gebruik maak. Die departement het op ‘n parlementêre vraag geantwoord almal het die reg op toegang tot gesondheidsorg en niemand mag dringende mediese hulp geweier word nie. Kgosi Letlape van ActionSA sê as daar nie kategorieë in gesondheidsrekords is wat tussen burgers en buitelanders onderskei nie, veroorsaak dit probleme met begroting en beleidsbepaling:
# Die EFF het ʼn dringende versoek ingedien by die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, om hul kommer te lug oor vergaderplek-kostestruktuur. Die kommissie moet korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. Die EFF sê sy kommer spruit uit die presedent wat deur die staatskapingskommissie geskep is. Dit het byna ʼn miljard-rand gekos en ʼn groot deel van die uitgawe hou verband met die huur van ʼn vergaderplek in Parktown, Johannesburg. Die party sê Madlanga moet aandring dat ʼn munisipale saal of ander staatsgebou gebruik word om koste te bespaar.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê vyf leerders van die Thuto-Lefa Secondary School in Munsieville, Krugersdorp, is in hegtenis geneem nadat twee mobiele klaskamers aan die brand gesteek is. Dit het na bewering gevolg op leerders se ontevredenheid met onlangse roosterveranderings. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê dis uiters ontstellend dat moontlike teenstand teen akademiese beplanning met so ‘n verwoestende daad gewys moes word:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor sê die M23-rebelle se aanvalle op burgerlikes in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo gaan voort al is ʼn skietstilstand in Junie onderteken. M23-soldate en lede van die Rwandese Weermag het tussen 9 en 21 Julie minstens 319 burgerlikes in die Noord-Kivu-provinsie vermoor. Die VN se hoëkommissaris vir menseregte, Volker Türk, waarsku ondertekenaars en bemiddelaars van die Doha- en die Washington-ooreenkoms om vinnig te werk aan veiligheid, sekerheid en ware vordering vir burgerlikes.
# Tennis: Die Amerikaner Ben Shelton kom teen Karen Khachanov van Rusland te staan in die eindstryd van die Kanadese Ope in Toronto. Shelton het sy landgenoot Taylor Fritz verslaan om sy eerste ATP-een-duisend-eindstryd te bereik en Khachanov het die topgekeurde Duitser Alexander Zverev verslaan. In die vroue-toernooi in Montreal het die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka, vir Clara Tauson van Denemarke verslaan om haar eerste WTA-een-duisend-toernooi sedert 2022 te haal. Die Japanner speel teen die plaaslike tiener Victoria Mboko wat Elena Rybakina van Kazakhstan uitgeskakel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-678-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-388-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….