Nuus 11:00
BULLETIN 4 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die regering wil Suid-Afrika se handelsprofiel verander om meer beleggings te lok
# Solidariteit veroordeel die minister van Gesondheid se ras-gebaseerde verdediging van die Nasionale Gesondheidsversekering
# En, sokker: Themba Zwane voer Bafana Bafana aan in twee Afrikabeker-kwalifiserende wedstryde
# President Cyril Ramaphosa sê die regering wil die struktuur van Suid-Afrika se handelsprofiel verander en beleggingsverhoudings versterk. Hy het vandag die Suid-Afrika-China-sakeforum in Beijing toegespreek. China is Suid-Afrika se grootse handelsvennoot, terwyl Suid-Afrika China se grootste handelsvennoot in Afrika is. Handel tussen die twee lande het gegroei van 614-miljard-rand in 2022 tot 692-miljard verlede jaar. Ramaphosa sê die land se ekonomie bied baie geleenthede vir buitelandse en plaaslike beleggings:
# Die vakbond Solidariteit waarsku die Nasionale Gesondheidsversekering kan tot nasionale verdeeldheid en ekonomiese skade lei. Die vakbond veroordeel die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, omdat hy rasgelaaide retoriek inspan om die NVG te bevorder en verwys na kritiek op die beleid as bangpratery uit die apartheidsera. Woordvoerder Theuns du Buisson voer aan die NGV is onuitvoerbaar en onbekostigbaar en sal ‘n negatiewe uitwerking op alle landsburgers hê, ongeag hulle ras, en lei tot ʼn massa-uittog deur dokters:
# Gauteng se regterpresident, Dunstan Mlambo, sê hy ondersoek maatreëls om mense aan te moedig om bemiddeling te oorweeg voordat hulle sake na die Johannesburgse Hooggeregshof neem. Die hof is tans die besigste in die land en het ʼn geweldige agterstand. Litigante in handelsake moet tot minstens Augustus 2025 wag vir hofdatums terwyl sommige sake van die Padongelukkefonds se verhoordatums in April 2029 op die hofrol is. Mlambo sê baie sake wat voor regters kom, kan deur bemiddeling opgelos word.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se ervare middelveld-ster, Themba Zwane, sal Bafana Bafana aanvoer in die Afrikabeker- kwalifiseerders teen Uganda en Suid-Soedan. Die gewone kaptein en doelwagter, Ronwen Williams, herstel van ʼn besering. Die nasionale span begin sy kwalifiseringsveldtog Vrydag op die Orlando-stadion teen Uganda en speel Dinsdag ʼn weg-wedstryd teen Suid-Soedan. Bafana se afrigter, Hugo Broos, wil hê die spelers moet opgewasse wees vir die taak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-412-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-486-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Die eerste bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Georg Meiring, is in die ouderdom van 85 oorlede. Hy was hoof van die Leër van 1990 tot ’93 en daarna die eerste hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag tot 1998. Meiring, bekend as een van die sogenaamde Groot Vyf generaals van die Grensoorlog-era, het die Orde van die Ster van Suid-Afrika in goud en die Orde van die Wolk en Banier, vierde klas, van Taiwan ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….