Nuus 11:00
BULLETIN 3 September11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF is bekommerd oor munisipaliteite se skuld aan pensioenfondse
# OUTA sê die Wetsontwerp op Plaaslike Regering bevorder ongerymdhede en politieke inmenging
# En ‘n uitdagende Netanyahu sê gyselaars sal deur militêre druk bevry word
# Die EFF sê hy is bekommerd omdat 172 munisipaliteite meer as een miljard-rand se pensioenfondsbydraes skuld. Dis volgens ‘n verslag van die Finansiële Sektor-owerheid, met die munisipaliteite van George en Mosselbaai in die Wes-Kaap wat die grootste sondaars is. Albei munisipaliteite wat volgens berigte jare laas pensioenbydraes gemaak het, word deur die DA bestuur. Die EFF sê dis roekeloos en plaas munisipale werkers in finansiële gevaar.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê intussen die voorgestelde Wetsontwerp op Plaaslike Regering: Algemene Wette is ʼn verspeelde geleentheid om munisipale bestuur te verbeter. Die organisasie glo dat dit aanspreeklikheid afwater deur die tydperk vir waarnemende munisipale bestuurders te verleng, en munisipale bestuurders wat onreëlmatig aangestel is tot drie maande in die amp te laat aanbly. Jonathan Erasmus van OUTA glo die wetsontwerp verlaag standaarde en laat potensieel onbevoegdheid toe, asook die wanbesteding van openbare fondse en verhoogde politieke inmenging:
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy stem nie saam met die Amerikaanse president, Joe Biden, se standpunt dat hy nie genoeg doen om ‘n skietstakingsooreenkoms te bereik nie. Tienduisende Israeliese burgers het betoog teen die regering se hantering van die oorlog in Gaza en Hamas se versuim om gyselaars vry te laat. Die versetoptrede volg op die ontdekking van die liggame van ses gyselaars in Gaza. Netanyahu sê hy sal gyselaars deur militêre druk bevry eerder as om ‘n ooreenkoms met Hamas aan te gaan:
# Rugby: Nieu-Seeland se voorspeler-afrigter, Jason Ryan, sê hulle wil in die tweede Kampioenskapstoets in Kaapstad voortbou op die positiewe aspekte van die eerste toets teen Suid-Afrika. Die All Blacks het 27-31 teen die Springbokke verloor op Ellispark. Ryan sê hulle kyk na kwessies soos die afname in intensiteit en gebrek aan punte in die laaste kwart van die eerste toets:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-884-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-498-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Drie rolprente wat op die 51ste Telluride-rolprentfees in Colorado, Amerika, vertoon is, is moontlike Oscar-wenners. Hulle is Sean Baker se Palme d’Or-wenner Anora, Jacques Audiard se Spaanstalige musiekblyspel Emilia Pérez, en Jason Reitman se donker komedie Saturday Night. Will Ferrell kan sy eerste Oscar-benoeming vir die dokumentêr, Will and Harper, losslaan. Nog ‘n rolprent wat indruk gemaak het op die fees, is Malcolm Washington se regisseursdebuut, The Piano Lesson. Die amptelike Oscar-benoemings sal op 17 Januarie aangekondig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….