Nuus 11:00
BULLETIN 2 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie sal voor die ANC se integriteitskommissie verskyn oor bewerings van korrupsie rondom die VBS Mutual Bank
# ‘n Voormalige kinderversorger pleit skuldig aan meer as 300 kinderseksmisdrywe in Australië en Italië
# En rugby: Die Bokke is in ‘n goeie posisie in die Rugbykampioenskap
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, gaan voor die party se integriteitskommissie verskyn. Dit hou verband met bewerings dat sy meer as 500-duisend-rand ontvang het van ʼn maatskappy wat sake gedoen het met VBS Mutual Bank, en wat tot sy ineenstorting gelei het. Sy was in daardie stadium burgemeester van Polokwane. Simelane verskyn Vrydag ook voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie. Mbalula het aan eNCA gesê hulle verwag ʼn volledige verslag van Simelane oor die bewerings:
# Die MK-party se Jeugliga sê hy kan nie langer toekyk terwyl weerbarstige elemente binne eie geledere steeds die eenheid en vooruitgang van die liga vir hulle persoonlike gewin ondermyn nie. Dit volg nadat die liga se gewese president, Bonginkosi Khanyile, en die voormalige sekretaris-generaal, Minenhle Cibane, wat in April afgedank is, steeds byeenkomste reël en toesprake maak sonder enige formele toestemming. Die liga se woordvoerder, Nkateko Mkhabela, sê hulle vra die MK-party om in te gryp om te voorkom wat moontlik ‘n chaotiese opstand kan word:
# Die DA vra die Oos-Kaapse regering om tydens Toerismemaand voordeel te trek uit die provinsie se onontginde toerismepotensiaal. Leander Kruger van die DA lig die streek se ryk kultuurerfenis uit en stel besliste optrede voor om bestuursuitdagings en infrastruktuurkwessies te hanteer. Hy vra strategiese vennootskappe en belegging om die provinsie te omskep in ‘n voorste toeristebestemming, en die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot te gee:
# ‘n Voormalige kinderversorger, Ashley Paul Griffith, het skuld beken op 307 kinderseksoortredings, insluitend 28 aanklagte van verkragting, van tientalle kinders in sy sorg in Brisbane, Australië en Italië tussen 2007 en 2022. Hy het vanoggend in Queensland se Distrikshof verskyn, waar hy ook skuld erken het op veelvuldige aanklagte van die besit van kinderuitbuitingsmateriaal. Die Australiese federale polisie glo Griffith, wat oor die vereiste kindersorgkwalifikasies beskik, het al sy oortredings by die werk op selfone en kameras vasgelê.
# Rugby: Die Springbokke is ná drie rondes die enigste onoorwonne span in die Rugbykampioenskap nadat hulle Nieu-Seeland Saterdag op Ellispark 31-27 verslaan. Die Bokke loop voor met 14 punte teenoor die All Blacks se ses, Argentinië se vyf en Australië se vier. Die Wallabies het Saterdag hul eerste sege van die Kampioenskap behaal toe hulle met die Pumas afgereken het. Springbokafrigter Rassie Erasmus sê dis belangrik om die kampioenskap te wen, maar hulle fokus nou op die volgende wedstryd teen Nieu-Seeland in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-514-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-497-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….