Nuus 11:00
BULLETIN 30 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die direkteur-generaal van Gesondheid het die Valke probeer verhoed om sy selfoon na te gaan
# Die Kaapstadse polisie skiet vier vermeende afpersers dood
# En, rugby: Etzebeth het Matfield se Springbok-rekord van 127 toetse in sy visier
# Die direkteur-generaal van die Departement van Gesondheid, Sandile Buthelezi het glo tydens die Digital Vibes-ondersoek in 2021 probeer om die Valke te keer om toegang tot sy foon te kry. Die destydse minister, Zweli Mkhize, het na bewering voordeel getrek uit die 150-miljoen-rand Digital Vibes-kontrak terwyl Buthelezi beskuldig is dat hy die kontrak verleng het om verdere betalings toe te laat. Hy is geskors, maar is later vrygespreek van enige oortredings. Volgens News24 het Buthelezi verlede jaar probeer om ‘n hofbevel te kry wat die Valke verhoed om sy selfoon te ondersoek, maar het die saak later teruggetrek.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente ontken die DA se aanspraak dat die befondsingsaankondiging vir die vermiste middelstudente oëverblindery was. Ondanks die verwerking van meer as 31-duisend aansoeke, het net een-duisend-300 aan die kriteria voldoen Die skema se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê hulle is verbind tot die verbetering van hulle prosesse in die volgende akademiese jaar:
# Die polisie het gisteraand in Milnerton, Kaapstad, vier vermeende afpersers doodgeskiet en vier ander gewond. Die polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê die verdagtes is in ‘n minibus opgemerk en het op die polisie losgebrand het. Sy sê daar is beslag gelê op vier vuurwapens en ammunisie wat in die verdagtes se voertuig gevind is:
# Rugby: Die Springbokslot Eben Etzebeth kruip al nader aan Victor Matfield se algehele rekord van 127 toetse. Etzebeth en Bryn Habana is tans saam tweede met 124 toetse, en Etzebeth hoop om die rekord aan die einde van die huidige Rugbykampioenskap te verbeter. ‘n Ligte kniebesering het amper sy planne tot die einde van die jaar uitgestel, maar hy het betyds herstel om môre op Ellispark teen die All Blacks te speel. Die 32-jarige Etzebeth het in 2012 sy buiging vir Suid-Afrika gemaak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-522-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-520-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid sê hy is slaggereed om die naweek die verwagte instroming van reisigers op paaie te bestuur, met duisende wat na die provinsie reis vir ‘n godsdienstige byeenkoms. Die Zion Christian Church se gemeente kom die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie by sy hoofkwartier in Moria buite Polokwane bymekaar. Die departement se woordvoerder, Tidimalo Chuene, sê wetstoepassingsbeamptes is reeds by strategiese plekke langs hoofroetes ontplooi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….