Nuus 11:00
BULLETIN 28 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Samewerkende Regering gaan ‘n omkeerplan vir wanfunksionele munisipaliteite voorlê
# Tien mense sterf in ‘n busongeluk op pad vanaf Zimbabwe na Johannesburg
# En rugby: Etzebeth is steeds ‘n moontlikheid vir die eerste toets teen die All Blacks
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê hy wil goedkeuring van die kabinet kry om ‘n tussen-ministeriële komitee saam te stel om op die oudituitslae van munisipaliteite te fokus. Die 2022/’23-uitslag vir plaaslike regerings het ʼn verswakking in die bestuur van munisipale finansies onthul, met meer as sewe-miljard-rand se vrugtelose en verkwistende uitgawes. Hlabisa sê hy gaan binne 21-dae ʼn omkeerplan aankondig vir wanfunksionele munisipaliteite, maar dit moet met politieke wil gepaard gaan.
Die MK-party sê intussen die Ouditeur-generaal se jongste verslag oor oudits in plaaslike regering skets ‘n donker prentjie oor dié regeringsvlak wat misluk. Swak oudit-verslae in plaaslike regering gaan ongesteurd voort, met slegs 34 van die land se 257 munisipaliteite wat gesond vertoon. Visvin Reddy van MK sê ouditkomitees moet versterk word, strenger maatreëls vir aanspreeklikheid moet ingestel word, en daar moet in die vermoë van munisipale amptenare belê word:
# ‘n Ondersoek is aan die gang nadat tien mense gisternag dood is in ‘n busongeluk by Makhado in Limpopo. Die bus was van Zimbabwe onderweg na Johannesburg toe die ongeluk omstreeks middernag gebeur het. Phuti Lekganyane van Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid sê die slagoffers – vyf mans en vyf vroue – was volgens berigte almal buitelanders:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het ʼn nuwe klagte teen oudpresident Donald Trump ingedien omdat hy na bewering by 2020 se verkiesing wou inmeng. Die land se hoogste hof het verlede maand beslis oudpresidente is geregtig op ʼn mate van immuniteit teen strafregtelike vervolging vir dade wat tydens hul ampstermyn gepleeg is. Die hersiene aanklag van 36 bladsye sluit steeds vier misdade in waarvan Trump beskuldig word, onder meer sameswering om Amerika te bedrieg. Trump sê die nuwe aanklag is ʼn poging om Amerikaners se aandag van die verkiesing af te trek.
# Rugby: Eben Etzebeth kan steeds in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets vir die Springbokke teen die All Blacks op Ellispark speel al is hy weens ‘n seer knie uit die wedstrydgroep gelaat. Pieter-Steph du Toit is op nommer 4 gekies en sal saam met Ruan Nortjé die slotpaar vorm. Hoofafrigter Rassie Erasmus sê egter Etzebeth, ‘n veteraan van 124 toetse, kan dalk ingesluit word in die plek van een van die plaasvervanger-losvoorspelers, Kwagga Smith, Marco van Staden en Elrigh Louw.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-194-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-510-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….