Nuus 11:00
BULLETIN 6 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se geskorste hoof bied ’n joernalis omkoopgeld van 60-duisend-rand aan om ’n ondersoek te staak
# Herman Mashaba sê ActionSA sal slegs onder streng voorwaardes by die regering van nasionale eenheid aansluit
# En die Amerikaanse gesant by die Verenigde Nasies sê die erkenning van ‘n Palestynse staat is ’n publisiteitsfoefie
# ’n Ondersoek het onthul dat die uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, en die instelling se woordvoerder, Phasha Makgolane, ‘n joernalis van Daily Maverick, Pieter-Louis Myburgh, 60-duisend-rand se omkoopgeld aangebied het om ʼn ondersoek te laat vaar. Die ondersoek gaan oor Malaka se eiendomstransaksies en haar vermeende bande met ʼn kontrakteur van die trust. Myburgh sê hy het Malaka en Makgolane Sondag by ʼn restaurant in Stellenbosch ontmoet waar hulle hom wou omkoop:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, ontken berigte dat sy party genooi is om deel te wees van die regering van nasionale eenheid. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het besluit om die grootte van die koalisieregering uit te brei en met die proses te begin om met ander partye te praat. Mashaba het aan Newzroom Afrika gesê hulle is oop vir gesprekke met die ANC indien hulle instem om die grootte van die kabinet aansienlik te verminder, of as die regering in duie stort en die land in ‘n kwesbare posisie gelaat word:
# Die DA het die Stad Tshwane gestriem oor sy besluit om te appelleer teen die Gautengse Hooggeregshof se beslissing dat die maandelikse skoonmaakheffing van 194-rand onregmatig en ongeldig is. AfriForum het in die hof aangevoer die heffing is ʼn onregverdige dubbele belasting op dienste wat nie gelewer word nie. Die metro voer aan die heffing is nie dubbele belasting nie, maar ʼn regverdige bydrae. Jacqui Uys van die DA sê die ANC-koalisie kan nie inwoners melk om die metro se boeke te laat klop nie.
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se gesant by die Verenigde Nasies, Dorothy Shea, sê terwyl druk op Hamas nodiger as ooit is, het sommige begin om die organisasie aan te moedig en onderhandelaars se pogings te ondermyn. Dit volg nadat lande soos Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Kanada planne aangekondig het om Palestina amptelik as staat te erken in die hoop om vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig. Shea sê Palestyne in Gaza moet toegelaat word om ʼn nuwe hoofstuk sonder Hamas te begin:
# Tennis: Die Amerikaner Taylor Fritz het ʼn halfeindstryd teen sy landgenoot, Ben Shelton, bespreek op die Kanadese Ope in Toronto. Die tweede-gekeurde het Andrey Rublev van Rusland verslaan terwyl Shelton die Australiër Alex de Minaur geklop het. Die topgekeurde Alexander Zverev van Duitsland en die Rus Karen Khachanov speel in die ander halfeindstryd. In die vroueafdeling in Montreal het Naomi Osaka van Japan maklik afgereken met Elina Svitolina van Oekraïne en speel in die halfeindronde teen die Deen Clara Tauson, wat die Amerikaner Madison Keys verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-132-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….