Nuus 11:00
BULLETIN 27 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party vra president Ramaphosa om op te tree teen die minister van Justisie
# Die Weermag het te kampe met siviele eise van 1,5-miljard-rand
# En, die regering verskerp diplomatieke druk oor twee Suid-Afrikaners wat in Ekwatoriaal-Guinee aangehou word
# Die GOOD-party vra president Cyril Ramaphosa om op te tree teen die minister van Justisie, Thembi Simelani. Sy het volgens berigte tydens haar ampstermyn as burgemeester van Polokwane in Limpopo ‘n lening van meer as ‘n half-miljoen-rand uitgeneem van dieselfde maatskappy wat 349-miljoen-rand van die plaaslike owerheid in die VBS Bank belê het. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit is heeltemal onhoudbaar dat die minister van Justisie betrek word by die voortslepende VBS bedrog- en korrupsieskandaal:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het te kampe met siviele eise van 1,5-miljard-rand. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, het dit onthul na aanleiding van ‘n parlementêre vraag van die EFF. Arbeids- en menslike hulpbronne-eise ten bedrae van 418-miljoen-rand maak die grootste deel van die skuld uit. Motshekga sê eise vir onwettige aanranding, aanhouding en vervolging beloop 375-miljoen-rand, terwyl die departement 147-miljoen-rand aan siviele eise moet betaal vir die verbreking en kansellering van kontrakte en dienste.
# ActionSA in Johannesburg het die burgemeesterskomiteelid vir Vervoer, Kenny Kunene, gevra om die prosesse wat gevolg is met die aanstelling van die nuwe kontrakteur vir Breëstraat bekend te maak. Die Johannesburgse Padagentskap het Step Up Engineering se kontrak beëindig weens swak prestasie en versuim om kontrakverpligtinge na te kom. Die straat is meer as ʼn jaar gelede verwoes in ʼn gasontploffing. ActionSA se woordvoerder, Zark Lebatlang, sê die agentskap het ʼn tender van 180-miljoen-rand toegeken aan ʼn maatskappy met ʼn twyfelagtige agtergrond:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê hy is baie bekommerd oor die voortgesette aanhouding van twee Suid-Afrikaners in Ekwatoriaal-Guinee. Peter Huxham en Frik Potgieter is sedert Februarie verlede jaar in die tronk in die land, waar hulle vir die Nederlandse olie- en gasmaatskappy SBM Offshore gewerk het. Die departement sê Suid-Afrika se ambassadeur in Ekwatoriaal-Guinee, Nolufefe Dwabayo, het met die minister van Buitelandse Sake in Malabo vergader. Suid-Afrika gaan voort met pogings om die saak met die land se regering op te los.
# Atletiek: Bradley Nkoana van Suid-Afrika maak vandag sy buiging in die 100-meter-uitdunne op Wêreldatletiek se Onder-20-kampioenskap in Lima, Peru. Hy was ‘n lid van Suid-Afrika se span wat vroeër die maand ‘n silwermedalje in die vier-maal-100-meter verower het op die Olimpiese Spele. Sowat een-duisend-700 atlete van meer as 130 lande neem die volgende vyf dae aan die kompetisie deel. Nkoana sê dit was baie spesiaal om ‘n medalje in Parys te kon wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-878-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-515-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….