Nuus 11:00
BULLETIN 26 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê diegene wat verantwoordelik is vir staatskaping word steeds aanspreeklik gehou
# Een toeris is dood en twee ander word vermis nadat ‘n ysgrot in Ysland intuimel
# En krieket: Die Protea-vroue begin met hul oefenkamp in aanloop tot die T20-Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa sê die regering werk hard om diegene wat vir staatskaping verantwoordelik was, aanspreeklik te hou, gesteelde fondse terug te kry en wette te bekragtig om dit in die toekoms te keer. Die staat het beslagleggingsbevele en skikkingsooreenkomste van byna tien-miljard-rand verseker wat met staatskaping verband hou. Daar is ook bewarings- en beperkingsbevele ter waarde van 17-miljard-rand toegestaan terwyl hofsake hangende is. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die regering gaan voort met stappe om korrupsie te voorkom, op te spoor en daarteen op te tree.
# Die DA het die minister van Landbou, John Steenhuisen, se besluit verwelkom om ondersoek in te stel na die vermiste 500-miljoen-rand by Onderstepoort Biologiese Produkte in Pretoria. Die staatsinstelling se belangrikste mandaat is om diere-entstof te vervaardig. Willie Aucamp van die DA sê dis duidelik dat iets ongerymds by Onderstepoort aangaan en dis noodsaaklik dat ondersoek ingestel word:
# Die Valke sê Gauteng is steeds ‘n jagveld vir misdadigers en ernstige misdaad. Die eenheid se hoof, Godfrey Lebeya, het in sy verslag oor suksesse in die eerste kwartaal van die 2024/’25-boekjaar onthul die meeste inhegtenisnemings, naamlik 167, was in Gauteng, gevolg deur KwaZulu-Natal en Noordwes. Lebeya sê elke saak wat sy afdeling aanpak, kry voorkeur en moet afgehandel word:
# ‘n Toeris is dood en twee word vermis nadat ‘n ysgrot tydens ‘n toergroep se besoek aan ‘n gletser in Ysland ingetuimel het. Die voorval het gebeur toe ‘n groep van 25 buitelandse toeriste van verskeie lande die gletser in die suide van die land verken het. Een persoon is ernstig beseer. Die owerhede sê pogings om toerusting en personeel tot by die gletser te bring, is moeilik weens die ruwe terrein en die ys word grotendeels met die hand met kettingsae gesny.
# Krieket: Die Protea-vroue is in Durban byeen vir ‘n nasionale oefenkamp om voor te berei vir die T20-Wêreldbekertoernooi. Dit volg na ‘n vaardigheidskamp in Tshwane vroeër die maand. Die tussentydse hoofafrigter, Dillon du Preez, sê die kamp op Kingsmead sal verseker die beste moontlike groep is gereed vir die toernooi, wat vroeg in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Die toernooi is na die Emirate verskuif weens politieke onrus in Bangladesj.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-827-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-518-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….