Nuus 11:00
BULLETIN 18 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Dobbelary-wysigingwetsontwerp word na ‘n bemiddelingskomitee verwys vir ‘n oplossing
# ‘n Onderwysaktivis vra vir militêre ontplooiing om bendegeweld in Eldorado Park te bekamp
# En, Suid-Afrikaners seëvier op sportvelde in Australië en die Karibiese Eilande
# Die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Dobbelary is na die bemiddelingskomitee verwys vir ‘n oplossing. Dit word as ‘n noodsaaklike stap beskou in gevalle waar die Parlement nie ‘n Wet kan goedkeur nie. Daar was onlangs besware en dit het gelei tot besprekings. Volgens die woordvoerder van die Parlement, Moloto Mothapo, is die Wetsontwerp na die Nasionale Raad van Provinsies gestuur vir eenstemmigheid nadat die Nasionale Vergadering dit verlede jaar goedgekeur het:
# Die onderwys-aktivis Hendrick Makaneta het ‘n beroep op die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, gedoen om die weermag na Eldorado Park in Gauteng te ontplooi wat tans ‘n bendegweld-brandpunt is. Makaneta sê leerders moet dringend beskerm word ná die onlangse steekvoorval by ‘n skool. Hy sê die polisie het versuim om die geweld te beheer en vra vir onmiddellike ingryping om te verseker dat skole ‘n veilige hawe vir leerders bly. Hy het die gemeenskap gevra om standpunt in te neem teen bendebedrywighede:
# Die Departement Binnelandse Sake het pogings verskerp om identiteitsbedrog uit te roei deur mense met geblokkeerde identiteitsdokumente te vra om binne 30 dae redes te verskaf waarom dit nie gekanselleer moet word nie. Minister Leon Schreiber beklemtoon die belangrikheid om verkeerde blokkasies op te los en terselfdertyd toe te slaan op bedrieglike dokumente. Hy sê dit moet geregtigheid verseker en die regsorde in stand hou in identiteits-bevestigingsprosesse.
Dit was ‘n goeie naweek vir Suid-Afrikaanse sportlui. In krieket het Kagiso Rabada die leiding geneem vir Suid-Afrika in hul oorwinning van 40 lopies oor die Wes-Indiese Eilande in ‘n spannende einde in die tweede toets. Die tuisspan is in hul tweede beurt op die derde dag in Georgetown, Guyana, vir 222 uitgehaal. Rabada het drie vir 50 in 16 beurte geneem vir ‘n loopbaantotaal van 299 toetspaaltjies. Keshav Maharaj het drie van die Windies se laaste vier paaltjies laat kantel. Die Proteas wen die reeks een-nul, nadat die eerste toets in Trinidad onbeslis geëindig het toe dit weens reën afgelas moes word.
# En in rugby het die Springbok-afrigter Rassie Erasmus die spelers geloof vir hul goeie vertoning onder moeilike omstandighede in hul tweede toets in twee weke teen Australië in vanjaar se Rugbykampioenskap. Hulle het met hul oorwinning van 30-12 weer ‘n bonuspunt ontvang. Die Bokke het vier drieë gedruk, maar die Wallabies se punte het slegs van skoppe gekom. Eben Etzebeth, wat die kapteinskap oorgeneem het toe Salmaan Moerat weens breinskudding die veld moes verlaat, was ewe opgewonde oor die sege. Die Bokke se volgende wedstryd is teen die All Blacks, wat volgens Erasmus met ‘n geweldige aanslag gaan kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….