Nuus 11:00
BULLETIN 16 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shivambu se skuif kan tot die EFF se verval lei
# Cosatu steun die oproep vir meer befondsing om speurders aan te stel in die polisie
# En rugby: Elrigh Louw verwag ’n reuse-aanslag van die Wallabies
# Floyd Shivambu se vertrek uit die EFF kan wesenlike gevolge hê vir die party se toekoms en plek in die Suid-Afirkaanse politiek. Dit is die mening van die politieke ontleder Levy Ndou. Die EFF se adjunk-president en stigterslid het gister bedank en by die MK-party aangesluit. Dit volg nadat die EFF as derde grootste politieke party ontsetel is. Ndou sê Shivambu se afwesigheid kan tot die EFF se agteruitgang lei, want hy was ‘n belangrike faktor in die verskaffing van politieke en ideologiese duidelikheid in die party.
# COSATU het sy steun toegesê aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se oproep vir bykomende befondsing om die kritieke tekort aan speurders aan te pak. Bykans 300-duisend onopgeloste sake, insluitend 76-duisend-655 moordsake, is sedert 2018 weens onvoldoende getuienis gesluit. COSATU se woordvoerder, Zanele Sabela, waarsku die tekort aan bekwame personeel belemmer die pogings om misdaad te bestry:
# Die DA in Gauteng sê die premier, Panyaza Lesufi, het nie enige oplossings verskaf vir diensleweringskwessies wat inwoners ervaar nie. Die premier het gisteraand sy provinsiale rede gelewer waarin hy beloftes gemaak het om ‘n wye reeks van uitdagings, insluitend werkloosheid, misdaad en swak infrastruktuur te takel. Die DA se provinsiale leier, Solly Msimanga, sê soos verwag het Lesufi aangehou om beloftes te maak wat nooit ‘n werklikheid gaan word nie:
# Paetongtarn Shinawatra is tot Thailand se 31ste eerste minister verkies nadat sy genoeg stemme in die Parlement gekry het. Die stemmery het plaasgevind enkele dae nadat die Konstitusionele Hof die gewese eerste minister, Srettha Thavisin, uit sy amp verwyder het. Shinawatra is die jongste dogter van ‘n vorige eerste minister, Thaksin Shinawatra, wat in 2006 in ‘n militêre staatsgreep uit die kussings gelig is. Die 37-jarige is die jongste eerste minister om Thailand te lei en die tweede vrou ná haar tannie, Yingluck Shinawatra.
# Rugby: Die Springbok-agtsteman Elrigh Louw sê hulle verwag ‘n hewige aanslag van Australië in môre se tweede ronde van die Rugby-Kampioenskap in Perth. Die Bokke het die Wallabies verlede naweek in Brisbane 33-7 verniel. Louw is een van vyf spelers wat sy plek in die beginspan behou het, en kry sy tweede kans in die wêreldkampioen se opdrafspan. Hy sê Australië gaan hulle spel opskerp, maar dit is belangrik dat die Bokke net hul beste gee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-457-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-452-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….