Nuus 11:00
BULLETIN 15 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF kritiseer die Departement van Justisie oor die beweerde verlies van die Zondo-kommissie se databasis
# Salga beklemtoon munisipale skuld aan Eskom bedreig sy toekoms
# En, rugby: Die All Blacks maak vier veranderings aan hulle opdrafspan vir die tweede kragmeting met die Pumas
# Die EFF sê dis vir hom duidelik die voortslepende konflik tussen die Departement van Justisie en die Nasionale Vervolgingsgesag is ‘n regstreekse gevolg van die misbruik van geregtigheid. News24 het berig dat die NVG weens ʼn gebrek aan instandhouding nie toegang kan kry tot die Zondo-kommissie se bewys-databasis nie. Die EFF sê regter Raymond Zondo se staatskapingsverslag was nooit bestem vir die doeltreffende vervolging van alle korrupte politici nie. Hy sê dit was bloot ʼn instrument vir faksiegevegte binne die ANC.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het inwoners gevra om hulle rekeninge te betaal om die 78-miljard-rand te verminder wat munisipaliteite aan Eskom skuld. Salga se hoof van energie, Nhlanhla Ngidi, waarsku die stygende skuld belemmer Eskom se vermoë om te belê in infrastruktuur, en bedreig sy toekomstige lewensvatbaarheid. Hy het aan Newzroom Afrika gesê strukturele en stelsel-kwessies veroorsaak skuld aan Eskom:
# Columbia Universiteit se president, Minouche Shafik, het bedank na maande se kritiek op haar hantering van studentebetogings oor die oorlog tussen Israel en Hamas. Columbia is beskou as die middelpunt van die studentgeleide pro-Palestynse betogings wat uitgebrei het na ander universiteite in Amerika en ander lande. Shafik sê dit was ʼn onstuimige tydperk en moeilik om uiteenlopende menings by die universiteit te versoen. Sy is die derde president van ʼn Ivy League-universiteit wat oor die Gaza-betogings bedank.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, het vier veranderings aan die beginspan gemaak wat Saterdag in die tweede toets op Edenpark in Auckland teen Argentinië te staan kom. Hy het gereageer op die verrassende nederlaag van 38-30 teen die Pumas verlede naweek deur drie agterspelers en een voorspeler te vervang. Will Jordan, Caleb Clarke, Rieko Ioane en Tamaiti Williams is in die opdrafspan terwyl Sam Cane op die reserwebank ingesluit is. Robertson sê hulle moet minder foute maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-128-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-455-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse popsanger, Tyla, se liedjie Jump is ingesluit op oudpresident Barack Obama se jaarlikse somer-speellys. Die liedjie is al meer as 140-miljoen keer op Spotify gestroom. Tyla het dit ook op die BET-toekennings gesing waar sy twee toekennings ontvang het. Ander inskrywings op Obama se speellys is Texas Hold ‘Em van Beyoncé, Chihiro van Billie Eilish, die Rolling Stones-treffer I Can’t Get No Satisfaction, en Tommy Richman se liedjie, Million Dollar Baby. Obama stel sedert 2015 byna elke jaar sy speellys saam en deel dit met die wêreld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….