Nuus 11:00
BULLETIN 10 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesufi sê Gauteng gaan voort met die Nasi Ispani-program
# Eskom se besteding op diesel krimp met 9,59-miljard-rand
# En, rugby: Die Springbokke gee die Wallabies behoorlik pak in Brisbane
# Die Gautengse premier Panyaza Lesufi het die versekering gegee alle Nasi iSpani-programme in die provinsie gaan voort ná betogings deur sommige beguntigdes. Lesufi het die jongste inligting oor die status van die provinsiale regering se massa-werwingsprogram verstrek. Die premier sê die provinsiale regering het verlede week korrespondensie ontvang wat aandui die nasionale regering se befondsing sal voortgaan en besig is om die model te finaliseer oor die beste manier om die program landwyd in te stel:
# Eskom sê hy het ‘n verlaging van 9,59-miljard-rand in die besteding op diesel vir sy oopsiklusgasturbine-kragstasies van 1 April tot 7 Augustus bereik, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die onbeplande kapasiteits-verliesfaktor toon steeds ‘n afwaartse tendens op 25,99-persent vir die huidige boekjaar tot op datum, wat ‘n verbetering is van die 34,78-persent wat dit in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was:
# Die Stad Tshwane sê hy is op ‘n gereedheidsgrondslag en hou vullisverwyderingsdienste fyn dop. Dit volg na voorvalle van intimidasie, dreigemente en aanvalle op vullisverwydeirngstrokke in Nellmapius naby Mamelodi en in Ekangala naby Bronkhorstspruit. Die burgemeesterskomiteelid vir die Omgewing en Landboubestuur, Ziyanda Zwane, sê Tshwane werk saam met wetstoepassing om die geïsoleerde gevalle te ondersoek:
# ‘n Man van Kalifornië wat ‘n polisiebeampte met ‘n vlagpaal en ander voorwerpe tydens Amerika se 6 Januarie-betoging by Capitol Hill aangeval het, is 20 jaar tronkstraf opgelê. Die 37-jarige David Dempsey, wat as een van die gewelddadigste lede van die skare tydens die onluste beskou word, het skuld beken. Meer as ‘n duisend mense is vir misdade wat met die betoging verband hou, gearresteer, terwyl honderde skuldig bevind is. Slegs Enrique Tarrio, die voormalige leier van die verregse Proud Boys-groep het ‘n langer vonnis van 22 jaar gekry.
# En, ons sluit af met uitstekende rugbynuus: Die Springbokke het Australië in hulle eerste toets vanoggend deeglik afgeransel. Hulle het vyf drieë teenoor die tuisspan se een in Brisbane aan die begin van hulle Rugby-Kampioenskapveldtog aangeteken. Kurt-Lee Arendse het twee keer vir die wêreldkampioene gaan druk, met Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit en Kwagga Smith wat die ander drieë gedruk het. Sacha Feinberg Mngomezulu het met vier doelskoppe geslaag in sy eerste wedstryd vir die Springbokke om die telling op 33-7 te staan te bring. Die Bokke het teen rustyd met 21-0 voorgeloop. Dit is Suid-Afrika se eerste oorwinning in Brisbane sedert 2013.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….