Nuus 11:00
BULLETIN 8 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Binnelandse Sake sê die Mej Suid-Afrika-sage toon die behoefte aan digitale modernisering
# Minister Ramokgopa sê die meeste eise teen die staat kom van staatsondernemings
# En, Olimpiese Spele: Miné de Klerk is vandag eerste in aksie vir Span Suid-Afrika
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die burgerskapkwessie van die Mej Suid-Afrika-deelnemer, Chidimma Adetshina, beklemtoon die dringende behoefte aan die digitale modernisering van die departement se prosesse. Die departement het prima facie-bewyse gevind dat Adetshina se ma identiteitsbedrog gepleeg het. Schreiber sê die digitale modernisering van aansoek-, beoordeling- en verifiserings-prosesse sal die departement teen bedrog beskerm:
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê die meeste eise teen die staat is die gevolg van roekelose en nalatige optrede van amptenare van staatsondernemings. Vir die boekjaar wat op 31 Maart 2023 geëindig het, was die voorwaardelike aanspreeklikheid wat voortgespruit het uit hofsake 21-miljard-rand. Transnet alleen het 49 eise teen hom wat insluit beweerde roekeloosheid, nalatigheid, en wangedrag van ‘n amptenaar. Ramokgopa sê staatsinstellings moet voorsiening maak vir voorwaardelike aanspreeklikheid.
# Die DA in KwaZulu-Natal sê die goedkeuring van verskeie departementele begrotings moet enige sprake weerlê dat die regering van provinsiale eenheid broos is, of dat daar skeurings in leierskap is. Imran Keeka van die party sê die provinsiale regering het pogings van die MK-party en sy EFF-koalisievennoot verhoed wat probeer het om die wettige vloei van geld na provinsiale departemente te keer. Hy sê as hulle geslaag het, sou dienste in die provinsie heeltemal in duie gestort het:
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake doen ‘n beroep vir ‘n vinnige en deeglike ondersoek na bewerings dat Israelse soldate Palestynse aangehoudenes seksueel geteister het. Uitgelekte beeldmateriaal wys waar soldate ‘n Palestynse aangehoudene seksueel aanrand op die Sde Teiman-basis in die Negev-woestyn. ‘n Verslag van die Verenigde Nasies het onthul meer as 50 Palestynse aangehoudenes van die Gaza-strook en die Wesoewer is sedert 7 Oktober dood. ‘n Woordvoerder van die departement, Matthew Miller, sê die bewerings is verskriklik:
# Olimpiese Spele: Miné de Klerk het die aksie vir Suid-Afrika in Parys afgeskop in die kwalifiserende ronde van die vrouegewigstoot. Dan hardloop Marioné Fourie in die heruitdunronde van die vroue-100-meterhekkies. Later spring die manspan weg in die eerste ronde van die vier-maal-100-meter-aflos. Die span het vroeër die slegte nuus gekry dat die tweede-vinnigste Suid-Afrikaner van alle tye, Benjamin Richardson, weens ‘n beenbesering nie sal kan deelneem nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-208-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-396-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….