Nuus 11:00
BULLETIN 5 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê misdaad belemmer steeeds die land se ekonomiese groei
# Lauren Dickason appèlleer teen haar vonnis van 18 jaar vir moord op haar drie dogters in Nieu-Seeland
# En, Olimpiese Spele : Adam Peaty bevraagteken China se oorwinning in die aflos vir mans na opkikker-bewerings
# President Cyril Ramaphosa sê buiten die trauma en onbestendigheid wat misdaad in gemeenskappe veroorsaak, belemmer dit ook ekonomiese groei en ontwikkeling. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die polisie se onlangse bywerking van Operasie Shanela is bemoedigend omdat dit toon die stryd teen misdaad kry momentum. Meer as 700-duisend mense is die afgelope jaar in hegtenis geneem tydens die optrede. Ramaphosa sê die regering se benadering tot misdaad moes by nuwe misdade aanpas. Dit sluit in onwettige mynbedrywighede en afpersing op boupersele, en meer onlangs ontvoerings om lospryse te eis.
Die Instituut vir Sekerheidstudies sê intussen die boubedryf-mafia verwring die beleid wat vir die sektor ingestel is. ‘n Misdaadkenner van die instituut, Lizette Lancaster, sê die beskermingsfooi van 30-persent in die Tesourie se Voorkeurverkrygingsregulasies wil die ekonomie hervorm om individue en ondernemings te bemagtig. Sy sê die regulasies word egter wanvoorgestel deur die boubedryf-mafia wat ‘n aandeel van 30-persent eis om te keer die perseel word ontwrig:
# Die DA in Gauteng sê hy het die provinsiale Gesondheidsdepartement se 2024/’25-begroting verwerp omdat niks verander het om seker te maak die geld word doeltreffend en sonder korrupsie aangewend nie. Die begroting is verlede week goedgekeur. Jack Bloom van die DA sê hulle is veral bekommerd oor vertragings om kankerpasiënte dringend te behandel, al is ‘n aansienlike deel van die begroting hiervoor toegeken:
# Die Suid-Afrikaanse dokter Lauren Dickason, wat tot 18 jaar tronkstraf gevonnis is vir die moord op haar drie kinders in Nieu-Seeland in 2021, het appèl aangeteken teen haar skuldigbevinding aan die moord op die sesjarige Liane en twee-jarige tweeling, Maya en Karla. Sy het erken sy het hulle verwurg en versmoor, maar voer aan sy was geestelik ongesond. Dickason het skuld ontken op drie aanklagte van moord en ‘n verdediging van geestelike versteurdheid of kindermoord geloods. As haar appèl slaag, kan ‘n tweede verhoor volg.
# Olimpiese Spele: Die Britse sesmalige Olimpiese-medaljewenner-swemmer, Adam Peaty, het China se oorwinning in die mans vier-maal-100-meter aflos in Parys bevraagteken na bewerings van opkikkergebruik. Twee van die wenners, Quin Haiyang en Sun Jiajun, is onder die 23 Chinese swemmers wat positief getoets het vir opkikkers voor die Spele in Tokio, maar kon deelneem nadat bevind is hulle het onwetend ‘n verbode middel ingeneem deur besmette kos. Peaty sê daar is nie enige sin in om te wen as mens dit nie regverdig doen nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-133-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-434-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….