Nuus 11:00
BULLETIN 2 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwerp gerugte van wedywering in die kabinet
# Die Amerikaners wat uit Russiese tronke bevry is, is tuis
# En, rugby: Die Bok-hulpafrigter sê die ekstra paar dae in Australië sal van onskatbare waarde wees
# Die ANC het berigte weerlê dat die DA hom oorskadu in die regering van nasionale eenheid. News24 het Woensdag ‘n berig gepubliseer wat beweer sommige ANC-ministers is huiwerig om met die media te skakel en dat die suksesse van opposisie-ministers hulle onbevoeg laat lyk. Die ANC se woordvoerder, Zuko Godlimpi, sê daar is nie enige sprake van wedywering in die kabinet nie:
# Die EFF sê die gebrek aan behoorlike oorsig oor privaat banke en sakeondernemings het maatskappye soos Nedbank toegelaat om straffeloos op te tree. Die Spesiale Ondersoekeenheid en Transnet dagvaar Nedbank oor die omstrede rentekoers-ruiltransaksies tydens die staatskapingsera. Hulle glo dit het die bank in staat gestel om wins van meer as 2,7-miljard-rand te behaal. Die EFF sê die gebrek aan aanspreeklikheid benadruk die stelselmislukkings in die regulatoriese raamwerk en die regering se onvermoë om geregtigheid teen sterk privaat belange af te dwing.
# Al Jama-ah veroordeel die Ahmed Kathrada-stigting en die Organisasie teen Belastingmisbruik vir hulle veldtog teen die Johannesburgse burgemeester, Kabelo Gwamanda. Die party beskuldig die groepe dat hulle Gwamanda se prestasies ondermyn en die stad se vordering wanvoorstel. Hulle kritiseer die stigting se misleidende bewerings oor die stad se finansiële bestuur en verbeterings. Die partyleier, Ganief Hendricks, sê die kritiek oor ‘n nuwe elektrisiteitsheffing is polities gemotiveerd:
# Die verslaggewer van Wall Street Journal, Evan Gershkovich, die gewese seesoldaat Paul Whelan en die joernalis Alsu Kurmasheva is terug op Amerikaanse bodem nadat hulle deel was van ‘n gevangene-uitruiling tussen Amerika, Rusland en vier ander lande. President Joe Biden en visepresident Kamala Harris het hulle op die Lugmagbasis Andrews in Maryland verwelkom. Sestien mense is uit Russiese aanhouding bevry terwyl Amerika, Duitsland, Noorweë, Slowenië en Pole agt Russiese gevangenes vrygelaat het. Harris sê dit was ʼn groot diplomatieke poging:
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Mzwandile Stick, sê ʼn kragmeting met die Wallabies in Australië is altyd ʼn groot uitdaging en daarom is die paar ekstra dae om by die toestande aan te pas, baie waardevol. Die Bokke het gister in Australië aangekom en skop volgende Saterdag vanjaar se Rugbykampioenskap in Brisbane af. Hulle tweede wedstryd teen die Wallabies is die 17de in Perth. Stick sê hulle het ʼn goeie grondslag waarop hulle in die Kampioenskap kan bou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-314-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-465-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….