Nuus 11:00
BULLETIN 31 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Energiekenner voorspel beurtkrag sal teen die einde van die jaar eindig
# Die EFF eis aanspreeklikheid vir die 123-miljoen-rand wat van die Nasionale Vaardigheidsfonds geplunder is
# En, Olimpiese Spele: Tatjana Smith keer terug na die swembad vir die 200-meter borsslag
# ‘n Energiekenner, Sampson Mamphweli, glo die regering kan teen November of Desember vanjaar aankondig beurtkrag is iets van die verlede. Mamphweli het aan Newzroom Afrika gesê die vooruitsig vir die beskikbaarheid van energie is positief, met vier maande sonder beurtkrag, ‘n energie-beskikbaarheidsfaktor van meer as 60-persent en minder ineenstortings. Hy is vol vertroue Eskom kan tot die begin van die somer volhou met energievoorsiening:
# Die EFF se Studentebevelstruktuur eis die onmiddellike inhegtenisneming van almal betrokke by die plundering van die Nasionale Vaardigheidsfonds van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. ’n Forensiese verslag het onthul dat 123-miljoen-rand uit die fonds gebruik is om ’n plaas en luukse voertuie te koop. Dit het ook bedrog en nie-lewering van dienste aan die lig gebring, wat daartoe gelei het dat miljoene rand nie verreken is nie. Die EFF sê dié growwe misbruik van openbare fondse is ‘n regstreekse aanslag op die integriteit van die onderwysstelsel.
# Die GOOD-party sê wanneer die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, vandag die provinsiale wetgewer open, moet hy verduidelik waarom hy baie van sy beloftes nie nakom nie. Die premier sal na verwagting sy regering se planne uiteensit om die prestasies van die sesde administrasie voort te sit. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Winde moenie aankondigings maak as hy nie die vermoë of voorneme het om dit in te stel nie:
# Hamas sê sy leier, Ismail Haniyeh, is dood in ‘n Israeliese aanval in Teheran waar hy die inhuldiging van die Iranse president, Masoud Pezeshkian, bygewoon het. Dit volg ‘n dag na ‘n Israeliese aanval op ‘n senior bevelvoerder van Hezbollah in Beiroet, as vergelding vir ‘n missielaanval in die Israeli-besette Golan-hoogland die naweek waarin 12 mense dood is. Hamas sê die sluipmoord is ‘n lafhartige daad wat nie ongestraf sal bly nie. Die Palestynse president, Mahmoud Abbas, het die sluipmoord veroordeel en gesê dit is ‘n gevaarlike verwikkeling.
# Olimpiese Spele: Die gouemedalje-wenner Tatjana Smith keer vandag terug na die swembad in Parys om mee te ding in die 200-meter borsslag. Sy het op die vorige Spele in Tokio goud gewen in die item, sowel as silwer in die 100-meter borsslag, wat sy Maandag omgeskakel het in goud. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Kaylene Corbett, is in dieselfde uitdun as Smith. Pieter Coetzé swem in die mans-200-meter rugslag. Vicky van der Merwe, Henri Schoeman en Jamie Riddle verteenwoordig die land in driekamp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-342-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-419-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….