Nuus 11:00
BULLETIN 30 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Ontleder sê Zuma se uitsetting sal nie die ANC se hernuwingsagenda bevorder nie
# Die DA sê hy bevorder steeds ‘n ekonomiese beleid wat die lewenskoste van Suid-Afrikaners verlig
# En motorsport: Carlos Sainz sluit hom van 2025 af by Williams aan
# ʼn Politieke ontleder sê oudpresident Jacob Zuma se uitsetting uit die ANC gaan nie die party se hernuwingsagenda bevorder nie. Die party se nasionale dissiplinêre komitee het Zuma uitgeskop omdat hy in die verkiesing vir die MK-party stemme gewerf en gestem het. Hy het 21 dae om te appelleer. ʼn Politieke ontleder aan die Nelson Mandela-universiteit, Ntsikelelo Breakfast, sê Zuma wil die ANC op die lange duur voorstel as ʼn organisasie wat sy regte geskend het, en hy is besig met ʼn politieke speletjie.
# Die DA bly daartoe verbind om voorspraak te maak vir ekonomiese beleid wat die lewenskoste sal vergemaklik. Die party verwelkom die steun van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging om BTW van 15-persent op hoender af te skaf. Die party herbevestig sy voortgesette verbintenis om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder, en toegang tot noodsaaklikhede te verseker sonder onnodige finansiële druk. Woordvoerder Willie Aucamp sê hierdie stap sal die finansiële las verlig vir lae-inkomste huishoudings:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die LUR vir Finansies, Deidré Baartman, het aan president Cyril Ramaphosa geskryf en ernstige kommer uitgespreek oor die grondwetlikheid van die Wet op Openbare Verkryging. Ramaphosa het die wet bekragtig om ʼn enkele raamwerk te skep om openbare tenders van alle staatsliggame te reguleer. Baartman sê die proses om die wetgewing op te stel, was heeltemal onvoldoende. Die Nasionale Tesourie het erken nie alle openbare insette is in ag geneem nie. Winde waarsku die wet sal ʼn remskoen wees vir alle verkrygingstelsels en -prosesse.
# Minstens 45 mense, onder wie ʼn eenjarige kind, is dood nadat swaar reën ʼn reeks grondstortings in die Indiese staat Kerala veroorsaak het. Sowat 70 mense is beseer en vrese bestaan dat baie meegesleur is deur modderige, sterkvloeiende water wat deur die gebied gestroom het. Amptenare sê reddingsoperasies is aan die gang, maar word gekniehalter deur swaar reën en ʼn brug wat ingestort het. Indië se eerste minister, Narendra Modi, het beloof alles sal gedoen word om diegene wat in puin vasgekeer is, te red.
# Motorsport: Die Ferrari-renjaer Carlos Sainz gaan volgende jaar by Williams aansluit nadat hy ‘n twee jaar-kontrak met die dié Formule Een-span gesluit het. Die Spanjaard sal by Alex Albon aansluit, en by Ferrari vervang word deur die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton. Williams se hoof, James Vowles, beskryf Sainz se ondertekening as ‘n sterk verklaring van voorneme. Sainz sê hy is vol vertroue Williams is op die regte plek om sy Formule 1-reis voort te sit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-808-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-389-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….